Estoire-gemeenskap vul self slaggate

0
589
Inwoners van Estoire het onlangs self ingespring om slaggate in dié deel van die stad te herstel.

Die Estoire-gemeenskap by Bloemfontein en sakemanne in die gebied het hande gevat en self ingespring om gevaarlike slaggate in twee besige strate te herstel.
Die gemeenskap sê dié stap volg uit frustrasie met die Mangaung Metro-munisipaliteit se onvermoë om op versoeke te reageer vir die herstel van drie groot slaggate. Al terugvoer wat hulle voortdurend ontvang het op hul navrae aan die metro se Paaie-departement, was verskonings.
Die verskonings, oor verskeie maande, was dat daar òf nie diesel vir voertuie is nie òf te min voertuie om die herstelwerk te kom doen. Voorsitter van die Estoire-buurtwag en Belastingbetalersvereniging, Fanie van der Walt, sê die metro doen geen padinstandhoudingswerk in die omgewing nie. Hy sê die gemeenskap kon net nie meer die slaggate verduur nie. Die gate het te gevaarlik geraak vir motoriste wat die strate gebruik het.
Van der Walt sê motoriste, veral dié wat onbekend met die omgewing is, moes begin uitswaai, soms voor aankomende verkeer in, om skade aan hul voertuie te verhoed.
Hy sê selfs die grondpaaie in die gebied word nie meer in stand gehou nie. Dit is nodig weens vragmotors en swaar verkeer wat mettertyd die strate verweer.
Van der Walt sê die metro het reeds een teerstraat, Sand du Plessislaan, opgebreek en in ‘n grondpad verander, maar dit word ook nie in stand gehou nie.
Die gemeenskap het twee van drie groot slaggate in Tibbie Visser- en Krugerlaan self herstel.
Van der Walt sê hulle het ongeveer 25 sakkies teer gebruik om die gate op te vul terwyl ‘n kompakteer-roller ook vir die werk gehuur is. Teer is gekoop met geldelike skenkings vanaf besighede en die gemeenskap. Die skenkings het egter tekortgeskiet en net genoeg teer vir die opvul van twee groot en gevaarlike slaggate kon gekry word.
Sakeondernemings wat ‘n bydrae gelewer het tot die herstel van die slaggate, is Aljos Spar, ProTest Electrical, Walbrecht Konstruksie, Razzmatazz, Kobus Naudé en die Estoire Buurtwag en Belastingbetalersvereniging.
Van der Walt sê daar is nog een groot slaggat wat herstel moet word asook verskeie ander kleiner slaggate wat nog aandag moet kry. – André Grobler 
andreg@centralmediagroup.co.za