Engen se restourasie-uitdaging gewild

0
784
Verskeie skaars veteraan trekkers en enjins was te sien by die Bloemfontein Familie Trekkerfees. Hier ry Roelf Herbst van Bloemfontein 'n baie skaars 1946 Leader trekkertjie. Sover bekend is daar net 2 van die trekkers nog in die land. Dit word aangedryf deur 'n Hercules enjin. Foto: André Grobler

Die eindronde van Engen se eerste enjinrestourasie-uitdaging vir jong mense wat in vennootskap met die SA Federasie van Veteraantrekker-en-enjinklubs aangebied word (SAVTEK), is by die Ferreira-museum buite Bloemfontein beslis.
Dié kompetisie behels die restourasie van ‘n stilstaande enjin van ouer as 30 jaar. Die wenners van die uitdunrondes in vyf streke in die land was in Bloemfontein tydens die Familie-trekkerfees byeen. Die kompetisie het bestaan uit ‘n junior afdeling vir skoolkinders, asook ‘n senior afdeling vir jeugdiges nie ouer as 35 jaar nie.
Die voorsitter van die Sentrale Vrystaat-veteraneklub, Christo Pieterse, sê dié kompetisie poog om jonger mense by die restourasie van enjins te betrek met ‘n totale prysgeld van R150 000, van Engen Smeermiddels.

Tweedeplekwenner van die junior afdeling, Gericke Muller (oranje hemp) van Mosselbaai, verduidelik aan die beoordelaars hoe hy sy Ruston Hornsby YWA 2-dieselenjin gerestoureer het.  FOTO'S: ANDRÉ GROBLER
Tweedeplekwenner van die junior afdeling, Gericke Muller (oranje hemp) van Mosselbaai, verduidelik aan die beoordelaars hoe hy sy Ruston Hornsby YWA 2-dieselenjin gerestoureer het.
FOTO’S: ANDRÉ GROBLER

Vir die kompetisie moet ‘n werkboek (skooltaak) opgestel word. Al die fasette en spesifikasies van die enjin moet nagevors word. Daarin moet die deelnemer alles wys wat hy regmaak, komponente wat dalk nie beskikbaar was nie en hoe hy gesoek het om dit te kry. Dan volg die beoordeling van die enjin self. Daar word gekyk of elke moertjie en boutjie oorspronklik is, asook die meganiese werking daarvan, en laastens word ‘n onderhoud met die deelnemer by sy enjin gevoer. Die deelnemer beskryf dan aan die beoordelaars hoe hy die restourasieproses ervaar het en hoe daar vooruitgang gemaak is.
Die senior afdeling is gewen deur Torsten Löwe, ‘n jong meganiese ingenieur van Pretoria, wat ‘n 1951 Deutz MAH 914-enjin gerestoureer het.
Die junior afdeling is gewen deur Liezel Gouws van Klerksdorp, vir die restourasie van ‘n 1963 Wolseley-enjin.
Engen se nasionale verkoopsbestuurder van landbou-smeermiddels, Paul Leask, sê dié kompetisie lê sy verkoopspan baie na aan die hart. “Die vaardigheidsontwikkeling en die jeug se betrokkenheid is iets baie spesiaals om te sien.” img_2066Pieterse sê al die deelnemers is lede van veteraantrekker-en-enjinklubs in Suid-Afrika. Die klubs se doel is om veral ou enjins en trekkers te restoureer in ‘n poging om te keer dat hulle op skrootwerwe beland.
Hy sê op die Familie-trekkerfees kon jongmense sien hoe vorige geslagte geploeg en gewerk het. “Dit is ‘n lewende museum, so die jeug kan sien hoe die trekkers en enjins gewerk het.”
Pieterse sê op die fees was ‘n stoomenjin te sien wat ‘n ou dorsmasjien van 1890 aandryf. Daar was onder meer ook ‘n 1928-Wallis-trekker. Die meeste enjins op die fees dateer uit die 1920’s tot 1950’s. – André Grobler
andreg@centralmediagroup.co.za