Elektroniese artikels bly ’n gunsteling in Kerskouse

0
264
Op speelgoedrakke is artikels soos hommeltuie en ander elektroniese speelgoed groot gunstelinge.

Elektroniese artikels blyk weer, soos vorige jare, onder die gewildste geskenke te wees dié Kersseisoen. Op speelgoedrakke is artikels soos hommeltuie en ander elektroniese speelgoed groot gunstelinge. Groot sagtespeelgoed-artikels is ook gewild in die kinderafdelings. Gesprekke met van die grootste winkels in Bloemfontein se personeel dui daarop dat televisiestelle die grootste gunsteling is onder vanjaar se Kersaankope.

Verder af in winkelgange trek ook baie ander elektroniese artikels vir persoonlike en gesinsgebruik die aandag van kopers. Hoewel elektroniese artikels die gewildste, blyk dit dat SuidAfrikaners se liefde vir die buitelug weerspieël word in hulle Kersaankope. In al die winkels word die buitelugafdelings druk besoek. Kinder- sowel as groot kampstoele en tente is gunstelinge terwyl buitelug-kookware soos emalje-ysterpotte heel moontlik onder vele Kersbome gevind sal word. Ysmasjiene blyk baie gewild te wees en kan ‘n lafenis vir elke hittegolf beteken.

Selfdoengereedskap (DIY) is soos vantevore van die gewildste dinge wat as Kersgeskenke aangeskaf word. Steva Klopper van die Klopperswinkelgroep in Bloemfontein bevestig die televisie-afdeling is besonder aktief vir aankope vir die huisgesin. Hy sê rekenaars, tablette en die klankafdeling vir individuele Kersgeskenke blyk ook baie gewild te wees. “Die aanduiding is dat baie mense beplan om by die huis te bly en hulself daarvoor in te rig,” sê Klopper.

Soos by die ander groot winkels, bevestig hy dat die buitelugafdeling aktief is met aankope soos tente, stoele en gazebo’s. “Dit lyk ook of daar baie mense is wat die kampeeropsie gaan uitvoer dié vakansie instede van die tradisionele weggaan-vakansie.” ‘n Verdere aanduiding dat meer mense dié jaar eerder by die huis gaan vakansie hou, is die groot hoeveelheid elektriese apparate wat vir huise aangekoop word.

Klopper sê in gesprekke met klante wat tradisioneel sou weggaan met vakansie, hulle nou aandui dat daar eerder tuis gebly word. Hulle spandeer eerder aan huishoudelike artikels vir die huis. Hy sê dit lyk egter nie of mense hul geld terughou nie. Mense spandeer, maar eerder aan hul huise. Daar is ook ‘n gevoel onder handelaars dat Suid-Afrikaners nader aan Kersdag na die winkels gaan stroom om laat Kersaankope te doen.

andreg@centralmediagroup.co.za