Ek wil ’n “blessing” hê! – 22 Desember 2016

0
504

Desember is die tyd van die jaar wanneer ons almal herinner word aan die gedagte van vrede, versoening en God se seën! Ek lees die volgende verhaal uit die lewe van die bekende Henry Nouwen. Hy was eers professor in Teologie en later, ná sy bedanking, het hy by die bekende Daybreak-sentrum vir gestremde persone gaan werk. Hy vertel dat hy op een van sy rondtes ’n verstandelik gestremde vrou teëgekom het met die naam Janet.

Sy vra hom toe: “Henry, seën my asb.” (Bless me). Soos ’n goeie priester het hy sy hande op haar gesit en gebid: “Ek seën jou in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.” Toe hy klaar was, sê sy vir hom: “Dit werk nie.” Hy vra toe: “Wat bedoel jy, dit werk nie?” “Nee, dit werk nie,” sê sy weer. Hy vra haar toe weer: “Nou, wat wil jy hê?” “Ek wil ’n ‘blessing’ hê.” Net daarna sê hy toe vir almal: “Janet wil ’n ‘blessing’ hê.” En toe staan sy op en sê “Ja.”

Sy kom toe vorentoe en hou hom vas. Toe kyk hy hy in haar oë en sê vir haar: “Janet, jy het pragtige oë. Ons het jou baie lief en God het jou baie lief. Onthou dit altyd.” Sy antwoord: “Ja, ek weet!” En toe steek almal hul hande op en sê hulle wil ook ’n “blessing” hê! En so “bless” hy hulle almal. ’n Assistent steek sy hand op en sê: “En wat van my?” Hy roep hom vorentoe en sit sy hande op sy skouers en sê vir hom: “God het jou oneindig lief.” Die trane rol oor die man se wange. Hy is geseën! Kersfees, ’n tyd van vrede, dit is die tyd van God se seën! Kom ons deel die mooi van hierdie tyd met mekaar!

Ds. Stephan van Heerden