“Ek is wat ek doen!” – 8 Desember 2016

0
228

Die jaar is amper verby en ek kyk terug na goeie en slegte tye. Die goeie tye oorskadu die slegte in my lewe, want ek het vroeg in my lewe al besef dat alles maar net genade is. Tog gryp die gedagte my vandag – dat “ek en jy is wat ons doen!” Sommige is belangrik, met grade en kwalifikasies. Ander is gewoon net mense wat in die lewe hul deel doen met ywer en harde werk. Ons probeer almal ons bes. Tog vergelyk ons onsself maklik met ander. Jy begin aan jouself en jou vermoëns twyfel; jy verwyt jouself oor wat jy kon gewees het of wat jy nou is. Dalk het jy groot foute gemaak en sukkel jy om jouself in die oë te kyk. Jy verwyt jouself gedurig en die verhaal van Lukas 15 (oor die verlore seun) maak vir jou al hoe meer sin. Tussen die varke kruip jy rond en smag na die huis van jou vader. Skielik besef die seun in ons verhaal dat sy vader se huis altyd oop is. Jy kan altyd weer terugkom! Ek kan anders dink en doen – en oor begin! Onthou, ook jy en ek kan oor begin in die lewe – jy kan anders wees en leef! Jou mens-wees is meer as die sertifikate teen die muur of die opinie van ander. Jy is anders en nuut gemaak – deur genade! Lukas 15 se verhaal kan ook jou verhaal van hoop wees!
Ds. Stephan van Heerden