Ek het jou lief! – 9 Februarie 2017

0
94

Liefde is die kode-woord vir Februarie. Wie van ons het nie opnuut ons liefde vir mekaar met ‘n geskenkie, ‘n lekker ete of ‘n kaartjie bewys nie? Elkeen ken ‘n storie van liefde. Dalk van baie jare terug. Of ons onthou die spesiale oomblikke saam met ‘n persoon. Die Bybel beskryf die liefde in Matteus 22:37-39. Liefde vir God en liefde vir my naaste. In geen onduidelike terme gaan dit oor: Wees lief vir God met jou alles en wees lief vir mense. Julle moet die liefdevolste groep op aarde wees. “Want as julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is”. Dit is die maand van liefde – eintlik moet dit ‘n léwe van liefde wees. Ek lees die volgende: “Liefde gaan nie oor wat ek uit iets of iemand kan kry nie, maar dit gaan eerder oor die vreugde wat jy vir ander kan gee”. Dit is liefdesdiens, die gee van ‘n stukkie brood, die omgee vir iemand, om uiteindelik die glimlag op God se gesig te sien. Dit is om mekaar te aanvaar en mekaar lief te hê… ten spyte van. Dit is die uitdaging vir elke gelowige.