Egpaar van Marquard wreed aangeval in rooftog

0
1176

‘n Landbou-adviseur en sy vrou van Marquard in die Vrystaat is in ‘n stabiele toestand in ‘n Bloemfonteinse hospitaal nadat hulle Saterdagnag in ‘n rooftog wreed in hul huis aangeval en met die dood gedreig is. Lourie van der Merwe en sy vrou Celia se dogter Ilse Botha het gisteraand aan Bloemfontein Courant gesê die rower het die agterdeur, wat gesluit was, oopgebreek. Van der Merwe het die man langs sy bed probeer afweer waarna hy vier keer met ‘n mes gesteek is.

Botha sê die aanvaller het haar ma met die mes in die gesig gesteek. Hy het haar gewonde ouers na die sitkamer gedwing en met handgewigte oor die kop geslaan. Volgens Botha het die rower ‘n mengsel van vlambare vloeistof, wat brandstof insluit, oor haar pa uitgegooi en ‘n dosie vuurhoutjies aan Celia gegee om haar man aan die brand te steek. Sy het geweier.

Die rower kon nie die vuurhoutjies aansteek nie. Die dosie vuurhoutjies was nat gewees. Botha sê die rower het haar pa probeer dwing om rottegif te eet. Hy het dit nie gedoen nie.  In die proses kon Celia uit die huis hardloop. Die rower het haar agterna gesit en teruggekom. Botha sê haar pa het die man verskeie kere geskop waarna hy weggehardloop het.  Celia het na die bure gehardloop om hulp te kry.   Die polisie het die voorval bevestig. – Christal-Lize Muller