Eddie van Potch Band ‘die volgende Touch of Class’

0
311
Die Eddie van Potch Band, Gerhard van Heerden en Eddie van Coller, op toer in Namibië.

Eddie van Coller, beter bekend as Eddie van Potch, en Gerhard van Heerden word as die volgende Touch of Class, of selfs beter, beskryf.
“Ek het die bynaam Eddie van Potch in 1998 gekry en nooit gedink dit sal later soveel verwarring in my lewe veroorsaak nie. Ek was nog altyd Eddie van Potch, maar deesdae sê ek, ‘ons’ is Eddie van Potch,” verduidelik Van Coller.
In 2015 het Van Coller en Van Heerden saam in ‘n groep van vier gespeel. “Gerhard het baskitaar gespeel en ek was op vocals en rhythm-kitaar. Dié groep het in November 2015 opgebreek en daar en dan het ek en Gerhard besluit om iets nuuts te probeer. Ons het net nooit gedink dat dit só groot sal word nie,” sê Van Coller.
Hy glo vas dat hy die kleinste rol speel in hul groep, want al wat hy hoef te doen is om te sing en kitaar te speel. Gerhard doen die res. “Dit verstom my steeds hoe hy regkry wat hy doen. Ons het ‘n hegte vriendskap en musiekverhouding maar as ek iets moet uitsonder is dit dat ons musiek maak vir die pret.” Volgens Van Heerden sien hulle om na mekaar en maak hulle net goeie musiek. Die reël is, sodra hulle dit nie meer geniet nie, hulle onmiddellik sal stop.
Die twee het ‘n redelike ‘arsenaal’ musiekverskeidenheid. Van Heerden beskryf hul musiekgenre as ‘goeie musiek’. “Ek glo vas dat ons musiekgenre redelik baie mense se goedkeuring wegdra.”
Die Eddie van Potch Band was sowat ‘n maand lank in Namibië op toer. Johan Coetzee van Virual Tech het die hele toer vir hulle gereël met 11 vertonings in net 14 dae. “Namibië is baie beter as wat ons ooit kon droom. Behalwe vir die hitte, wat erg was. Die mense daar is ongelooflik en gaan uit hul pad om jou as musikant te waardeer en as vriend te behandel. Ons het vroeg op die toer gesê en is nie bang om te herhaal nie dat Namibië meer doen vir besoekende kunstenaars as wat Suid-Afrika vir sy eie kunstenaars doen, en dit het absoluut niks met geld te doen nie,” verduidelik hulle.
Vir 2018 is daar ‘n hele paar planne wat hulle wil uitvoer, waarvan een ‘n album is. Dan is daar ook ‘n paar groot vertonings in die pyplyn en vir seker nog ‘n toer.
Die grapjas Van Coller maak ‘n laaste grappie toe daar gevra word vir raad aan jonger musikante. “Ek het dan tot nou toe vas geglo óns is die jong kunstenaars! Maak musiek vir die regte rede, om dit te geniet en sodat ander dit saam met jou kan geniet. Moet ook nooit mismoedig raak as jy sien hoe ander mense beter kitaar speel of beter sing of beter ‘wat ook al’ nie. In musiek is ons almal amateurs.”
Van Heerden se raad: “Kry jou eie sound, moet nooit iemand probeer copy nie. Backtracks is n goeie manier om te oefen, maar hou jou vertonings live. Moet ook nooit die mense vergeet wat jou help om te kom by die plek waarheen jy op pad is nie.”

JERETHA OOSTHUIZEN 
jeretha@mahareng.co.za