Drie Vrystaters toegewyd om Onderwysreg te bevorder

0
295
Jaco Deacon van Fedsas. FOTO: Christal-Lize Muller

Altesaam drie Vrystaters stoom voort om nog ‘n groter bydrae tot die bevordering van onderwys in die land te lewer.

Dit kom nadat die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se adjunkhoof, Jaco Deacon van Bloemfontein, vandeesweek as president van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Onderwysreg, oftewel Saela, op die vereniging se kongres in Kaapstad verkies is.

Fedsas se bestuurder vir ondersteuningsdienste, Suzaan Mellet van Kroonstad, is Saela se nuwe sekretaresse. Deacon sê nog ‘n Bloemfonteiner, Mariette Reyneke, ‘n dosent in Publieke Reg aan die Univeristeit van die Vrystaat (UV), is as vise-president aangewys. Dit is sover bekend die eerste keer sedert Saela se bestaan dat sy president nie van akademici verteenwoordigend is nie.

Deacon, wat ‘n regsagtergrond het, sê dit is ‘n groot eer om deel te wees van dié forum waarop daar uiteenlopend oor Onderwysreg gepraat kan word.

Hy glo dit sal beter gaan met onderwys in Suid-Afrika as daar meer platforms is om onderwysreg meer toeganklik te maak vir alle betrokkenes. Die Saela-platform moet weier bekendgestel word aan die breë publiek. Hy sê Saela het ten doel om betrokkenes in die onderwys (onderwysers, amptenare en lede van beheerliggame) byeen te bring om oor kwessies te debatteer.

Deacon sê in die stadium is daar reeds goeie betrokkenheid. Saela moet dié forum wees waar nuwe denke voorgelê kan word en idees in oorweging gebring kan word. Dit moet aan jong studente die geleentheid bied om referate te lewer oor onderwerpe in die Onderwysreg.

Deacon sê Fedsas is vir jare al ‘n lid van Saela en was nog altyd nou betrokke by debatvoering oor die ontwikkeling van Onderwysreg. – Christal-Lize Muller