Drie mans vas na aantal rooftogte in Bfn

0
1522

Drie mans wat verbind word met ‘n aantal rooftogte op studente in Bloemfontein, sal na verwagting môre in die plaaslike landdroshof verskyn.

Polisiewoordvoerder, Chaka Marope sê die drie verdagtes, tussen die ouderdom van 22 en 26, is Donderdag omstreeks 21:00 naby ‘n hotel in Park West deur die polisie vasgetrek.

Dit volg nadat twee studente Donderdag op die hoek van Dutton en Mellville straat aangeval en van hulle selfone beroof is. Marope sê drie skote is afgevuur, maar niemand is gewond nie.

Minute later is nog twee studente op dieselfde hoek van hul selfone beroof. Marope sê die drie mans het toe nog twee studente in Groenewoud straat van hulle selfone beroof, voor hulle in ‘n wit Toyota sonder ‘n nommerplaat, op die vlug geslaan het.

Hulle is later deur die polisie vasgetrek. Een man is in die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen gevind.

-Mark Steenbok