Drie doen aansoek om borgtog ná moord op polisiebeampte

0
229

Drie verdagtes wat teregstaan op die moord van ‘n speurder van Botshabelo in Februarie vanjaar sal na verwagting vandag in die plaaslike landdroshof om borgtog aansoek doen. Een van die verdagtes, Mokete Mokhothu, is verlede Donderdag deur die Valke in die Winburg Korrektiewe Dienste in hegtenis geneem.

Woordvoerder vir die Valke in die Vrystaat, S’fiso Nyakane, sê die 24-jarige Mokhothu is in die gevangenis in hegtenis geneem nadat hy in April vanjaar twee jaar tronkstraf opgelê is vir roof in ‘n afsonderlike voorval. Mokhothu en sy twee makkers, Sello Petlane en Ernest Kgake, het Maandag vlugtig in die hof verskyn in verband met die moord op polisiekonstabel, Johannes Putsoeli, wie se lyk meer as ses maande gelede in ‘n oop stuk veld naby die Kaizer Sebothelo-stadion gevind is.

Putsoeli is met ‘n skerp voorwerp in die nek gesteek.  Nyakane sê Petlane en Kgake is meer as twee weke gelede in hegtenis geneem. Hy sê dié verdagtes is vermoedelik vriende. Hulle word ook aangekla vir diefstal nadat Putsoeli se dienspistool, selfoon en beursie na bewering gebuit is. – Christal-Lize Muller