Drakensberg-seunskoor soek nuwe sing talent in Bfn

0
1032
www.southafrica.net

Die wêreldberoemde Drakensberg-seunskoor wat vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier, is op soek na nuwe sangtalent hier in die Rosestad.

Die skool, alombekend as ‘Drakies’, sal oor die volgende twee dae besoek aan verskeie skole aflê, insluitend Willem Postma, Grey-kollege, Brebner Primêre skool en Bloemfontein Curro in ‘n poging om nuwe talent te ontdek.

Die dubbelmedium skool is geleë naby Winterton in die hartjie van die Drakensberge en maak voorsiening vir ongeveer 120 seuns. Die skool bied ’n deeglike en omvattende musiekopvoeding aan leerlinge.

Die skool se bemarkingsbestuurder, Belinda Espag, sê hulle is op soek na net die beste talent. “Jy weet ons het nie elke jaar die voorreg om na Bloemfontein te kom nie. Ons het reeds twee seuns van Bloemfontein wat uit hul eie besluit het hulle kan sing, en hulle is vanjaar by ons aanvaar. Ek dink hier is baie versteekte talent hier.

“Ons standaarde is uit die aard van die saak baie hoog. Ons is vanjaar 50 jaar oud. Ek glo ons is ‘n ware weerspieëling van Suid-Afrika en hoe mense kan saamlewe. Ons moet absoluut die beste talent hier in Bloemfontein kry.

Sy sê hulle sal verskeie vertonings by die skole aanbied, waarna ‘n video aan leerders gewys sal word om hulle insig te gee oor die skool. Diegene wat dan belangstel om by die skool aan te sluit sal gevra word om ‘n oudisie volgens Espag af te lê.

“Die oudisies behels basies om ‘n paar note te sing, ons doen ook ritme-oefeninge om te bepaal of die seuns klank kan hoor,” sê Espag. Sy noem verder dat indien die kinders die oudisies slaag, hulle gevra sal word om die skool later vanjaar oor ‘n naweek te besoek.

“Hulle besoek ons vir twee dae daar in die berge saam met hulle ouers. As die seuns dan daardie oudisies slaag, lig ons die ouers in dat dat hulle aanvaar is. Daarna kan die leerders en hulle ouers ‘n ingeligte besluit neem of hulle by ons wil inskakel,” sê Espag.

Die skool het reeds besoek aan 48 lande afgelê en voor meer as ‘n miljoen mense van regoor die wêreld opgetree.

Die skool lê Donderdag om 09:00 besoek af by Willem Postma en is vanaf 11:00 by Grey Kollege beskikbaar.

-Mark Steenbok