Dit voel seer, sê seun ná wrede Bainsvlei-moorde

0
1339
'n Bedroefde Nico Swanepoel (regs) saam met sy vrou, Chrisna, by die graf van sy ouers verlede jaar ná hul moord. FOTO: CHRISTAL-LIZE MULLER

Wyle Toon en Rienie Swanepoel van Bainsvlei se veroordeelde moordenaars het die “straf ontvang wat hulle toekom”. Dit is die mening van die Swanepoel-egpaar se seun, Nico, nadat sy ouers se moordenaars, Fana Hendrik Ntshudi, Motsamai Jacobus Bitterbos en Jackie Louw, verlede week elk drie keer lewenslange gevangenisstraf vir die egpaar se dubbele moord en ‘n verkragtingsklag opgelê is (lees meer op bladsy 8). Nico het sedert sy ouers se grusame moord verlede jaar, vandeesweek vir die eerste keer teenoor Bloemfontein Courant oopgemaak.
“Reg en geregtigheid het geskied.” Hy vertel die wreedheid, grusaamheid en die veroordeelde moordenaars se gevoelloosheid was vir hom tydens die verhoor die moeilikste. Sy behoud was egter die ondersteuning van familie, vriende en kollegas. Hy sou graag wou weet “hoe die drie moordenaars so wreedaardig kon wees teenoor mense wat niks aan hulle gedoen het nie.” Nico sê elke keer wanneer hy van ‘n plaasmoord hoor, pynig dit hom. “Dit voel seer.”
Nuus oor ander plaasmoorde “herinner my aan die dag wat ek die onvergeetlike nuus ontvang het”. Hy dink aan al die chaos. “Jy weet niks nie en dit voel of jy kop kan verloor weens al die spanning.” Dit, terwyl daar niks aan dié gevoel gedoen kan word nie, sê hy. Die feit dat die moordenaars nou agter tralies is, sluit egter nie die hoofstuk af nie. “Ek weet nie of ‘n mens dít ooit kan afsluit nie.” Nico sal dit “nooit kan vergeet nie”.
Hy sê bejaardes op plase is maklike teikens, maar dit is nie slegs hulle wat wreed aangeval word nie. “Dit maak nie saak wat jy doen nie, ‘n mens word goed dopgehou.” Aanvallers werk nie alleen nie. “Hulle is altyd in ‘n groep van drie of meer.” Daarteenoor is ‘n slagoffer dikwels alleen en moet homself teen ‘n groep beskerm.
Nico is daarvan oortuig dat minder of selfs geen moorde sal voorkom nie en dat wet en orde gehandhaaf sal word indien die doodstraf weer in Suid-Afrika ingestel sou word. Die Swanepoel-egpaar leef in baie se harte voort. Nico se boodskap aan sy ouers is om rus en vrede te vind. Hy is jammer hulle moes op “só ‘n barbaarse manier sterf”. – Christal-lize Muller
christal-lize@centralmediagroup.co.za