Dit kan net beter gaan

0
252

Die jaar 2016 was voorwaar ‘n moeilike jaar. Suid-Afrika het ‘n erge droogte beleef, rentekoerse het gestyg, die Rand was erg wisselvallig en het in ‘n stadium heelwat verswak, ekonomiese groei is baie ver weg van waar dit behoort te wees, daar is heelwat politieke onsekerhede, en dan het Springbokrugby waarskynlik sy donkerste jaar nóg beleef.
Wêreldwyd heers daar ook heelwat onsekerhede en daar is ‘n paar interessante scenario’s wat nog moet uitspeel. Dink maar net aan Trump en Brexit, om twee te noem. Dit alles, behalwe natuurlik Springbokrugby, het natuurlik ‘n invloed op jou belegging (insluitend pensioenfonds) se opbrengste gehad. Beleggingsopbrengste het in 2016, om die minste te sê, beroerd gelyk. Baie beleggers het begin soek na alternatiewe beleggingsopsies en skielik lyk geldmarkfondse en vaste deposito’s nie meer na slegte alternatiewe nie.
In vandag se rubriek wil ek graag gesels met beleggers wat worstel met die keuse of hulle in hul bestaande markverwante belegging moet bly, of eerder moet skuif na die veilge hawe van ‘n geldmarkfonds of vaste deposito.
Eerstens, dit is amper vakansietyd. Moet dus nie nou sulke drastiese besluite neem nie.
Tweedens, teen die tyd dat jy begin oorweeg om beleggings rond te skuif, is dit reeds te laat.
Derdens, jy behoort ‘n beleggingsplan en beleggingsdoelwit te hê. Moenie hiervan afwyk nie.
Vierdens, finansiële markte is en was nog altyd volatiel en sensitief vir onsekerheid. Dit gaan ook so wees in die toekoms. Alles keer egter met tyd terug na normaal.
Vyfdens, die geduldige belegger sal beloon word. Jy gaan 5 jaar van nou af beter af wees indien jy nou net niks doen nie. Jy gaan 5 jaar van nou af slegter af wees indien jy nou skielik wil begin rondspring tussen verskillende beleggingsopsies.
Laastens, ‘n markverwante beleggingsportefeulje se doelwit is nie om vaste-rente-beleggings deurlopend op die korttermyn uit te presteer nie, maar eerder om jou langtermyn-beleggingsdoelwit te bereik, alhoewel dit op die kort termyn swak of selfs negatief mag presteer. Die waarskynlikheid is baie goed dat 2017 beter gaan eindig as 2016. Bly dus kalm en vergeet eers van die swak opbrengssyfers. Indien jy enige spesifieke beleggingsbekommernisse het, is jy welkom om vir my ‘n e-pos te stuur na horace@nassaux.com of my ‘n luitjie te gee by 051-430 0302. – Horace Terry