Dit kan net beter in 2017

0
141

Verlede week het ons daaroor gesels dat dit nie nou die tyd is om enige drastiese skuiwe in jou beleggingsportefeulje te oorweeg nie. Onsekerheid vier tans hoogty op finansiële markte en 2016 was ’n besonder moeilike jaar gewees. Gegewe hoe sake tans staan, kan dit in 2017 net beter gaan. Daar is reeds heelwat positiewe verwikkelinge wêreldwyd, wat daarop dui dat wêreldgroei stadig maar seker opwaarts begin beur.

Ongelukkig gebeur dié dinge maar stadig, dus moet beleggers nie oornag ’n drastiese verbetering in opbrengste verwag nie. Onsekerheid gaan daar egter ook steeds wees, wat daartoe sal lei dat markte volatiel bly. Wat egter belangrik is, is dat dinge nou kan begin beter gaan en hopelik in beleggingsopbrengste weerspieël word. Dis nou die tyd dat ’n mens moet moedhou en deurdruk met jou beleggingstrategie.

Maak dus vroeg in 2017 seker dat jou beleggingsportefeulje (insluitend jou aftreefonds) belyn is met die verwagtinge vir 2017. Ek wil dan ook aan alle Courant-lesers ’n geseënde Kersfees toewens. Geniet die vakansietyd en reis veilig. Baie dankie vir al die navrae en geselsies in 2016. Dit was lekker gewees om soveel nuwe mense te ontmoet en almal se sienings te kon hoor.

Ook baie dankie aan al die persone wat my kliënte is en ook my rubrieke lees. Ek waardeer die vertroue wat julle in my geplaas het, spesifiek in die moeilike finansiële omstandighede wat in 2016 ervaar is. Ek sien uit daarna om die pad verder met julle te stap in 2017. Ons gesels weer in die nuwe jaar. Geniet eers die blaaskans. – Horace Terry