Diereregte: Dis ‘n hondelewe

0
508

“Dis ‘n oorreaksie! Die wêreld het heeltemal op hol gegaan.” So sê die Suid-Afrikaanse sjef, Pete Goffe-Wood, oor Switserland se nuwe wetgewing wat restaurante verbied om kreef lewend te kook. Dierebeskerming is ‘n groot kwessie daar tussen die Alpe.
Ek het lank hieroor gewonder. Daar is allerhande interessante kinkels as jy begin praat oor diere en hulle regte. Dis ‘n moeilike debat, want waar trek jy die streep?
Die meeste van ons stem saam dat Volkswagen se gebruik van ape in daardie dieseldamptoetse te ver gegaan het. Hoe wreed kan jy wees! En dit met diere wat nes ons lyk. Maar as krewe beskerm word, wat van visse? Hoe bloeddorstig is dit nie om hulle met ‘n skerp staalhoek in daardie pragtige mondjies te vang en dan spartelend uit die water te pluk nie. Kan jy jou die vrees, die trauma indink van hulle laaste oomblikke?
Ek moet iets vreesliks bely wat in my kinderjare gebeur het. Nou nog skrik ek soms natgesweet in die middel van die nag wakker as die herinneringe terugkom. Dit gaan oor ‘n vlieg. Eintlik ‘n hele paar vlieë.
Destyds op laerskool het ek spesiale vliegtronke, eintlik martelkamers, ontwerp. Uit sjampanjeproppe het ek twee ronde wieletjies gesny. Met kopspelde, wat ek by my ma gesteel het, het ek die tralies gemaak deur dit langs die kante al in die rondte deur die kurk te druk. In die dak (die boonste wiel) het ek ‘n ronde gaatjie geboor vir die deur na die sel toe. ‘n Kopspeld op die dwarste daardeur het ontsnapping voorkom. En dan het ek vlieë gevang en lewend in my kurk-en-spelde-tronk toegemaak.
Hoe wens ek ek kon sê dis waar dit opgehou het. Maar dit het nie. Ek het van my klappers, wat ek by die Griek se kafee gekoop het, deur die tralies gedruk, die lonte aangesteek en die hele tronk opgeblaas. Geen vlieg het dit ooit oorleef nie.
So diep is my skuldgevoelens hieroor dat ek vandag nooit enige vlieg skade sal aandoen nie. Ek waai hulle net saggies by ‘n oop venster uit…