Die Voortrekkers vier 85ste bestaansjaar

0
1116
Die Voortrekkers het die afgelope Saterdag hul 85ste bestaansjaar by die Vrouemonument in Bloemfontein gevier.

Die afgelope Saterdag het Die Voortrekkers hul 85ste bestaansjaar in Bloemfontein gevier. Die beweging is op 30 September 1931 op die trappe van die Vierde Raadsaal in Bloemfontein gestig.
Volgens dr. Danie Langner, hoofleier van Die Voortrekkers, is Die Voortrekkers ‘n kombinasie en balans tussen kultuur, avontuur en natuur. “Die Voortrekkers is ‘n gesellige familiehuis met baie kamers. In dié huis word vriende vinnig soos familie. Die Voortrekkers is ‘n behoortplek waar oupa, ouma, pa en ma met hul kinders in ‘n gebalanseerde kultuuromgewing saamkuier, dien en kultuur met avontuur in die natuur geniet,” het Langner gesê.
Langner vertel dat deur vaardigheidsontwikkeling, waardegedrewe antwoorde en praktiese toepassing betree Die Voortrekkers die toekoms met selfvertroue. “Die goue reël binne Die Voortrekkers is om niks vir jeuglede te doen wat hulle nie self kan doen nie. Hierdeur leer hulle om waardes en vaardighede in hul konteks prakties toe te pas.”
Die plaaslike gemeenskap word uitgenooi om saam met Die Voortrekkers nuwe spore te kom trap deur die fees in hul omgewing by te woon.
Tydens die afgelope naweek se feesgeleentheid het Die Voortrekkers erkenning gegee aan Bloemfonteinse gemeenskapsleiers vir hul diens aan die Afrikanerjeug. Prof. Barry Frey, Johan van Zyl en ds. Retief Botha is vereer met die penning vir uitstaande jeugdiens.
Jak de Priester was op die fees te sien waar hy die “Sporelied” gesing het wat hy vir die feesvieringe geskryf het.
Die Voortrekkers Kook-resepteboek is ook op die fees bekend gestel. Dié unieke resepteboek bevat al die lekkerste resepte van spankampe, veldkampe en gebiedskampe.
As deel van die feesjaar bied Die Voortrekkers feeste regoor Suid-Afrika en Namibië aan, wat ‘n hoogtepunt gedurende die naweek van 24 en 25 September 2016 sal bereik. Op 24 September 2016 word ‘n beeld, genaamd die Voortrekkerkind, aan die voet van die Voortrekkermonument onthul. Dit is ontwerp en gemaak deur ‘n Namibiese beeldhouer, Duif Keyser.
Die fees word op 25 September 2016 afgesluit met ‘n erediens in die senotaafsaal van die Voortrekkermonument in Pretoria.
Aan die einde van September 2016 word daar ook ‘n dokumentêr, getiteld Voortrekkerspore, wat oor Die Voortrekkers handel, op kykNET vertoon. (Sondag 18 en 25 September 2016, om 14:30 op kykNET.)DSC_0123