Is die tyd vir meer risikoblootstelling hier?

0
260

As ons terugkyk na wêreldaandeelmarkte, sien ons dat markte sedert middel-2014 in onstuimigheid gedompel is. Dit was toe die regte tyd dat jy al jou beleggings na die veiligheid van vasterentebeleggings moes oorgeskakel het.

In terugblik is dit maklik om nou dié opmerking te maak; in realiteit is dit nie so maklik nie. Die beweging van finansiële markte kan nie voorspel word nie.Ongelukkig is daar steeds beleggers wat in die loop van 2016 (en nou in 2017), hul markverwante beleggings verruil het vir die veilige hawe van vasterente-beleggings (te laat).

Terwyl die vraag gevra kan word of dit nie nou eerder die tyd is om weer ’n bietjie risikoblootstelling te bekom nie? Vergelyk dit met ’n groot, donker bos. In 2014 het beleggers die groot, donker bos ingehardloop, daar was baie onsekerhede, en niemand het geweet wat om te verwag nie.

Tans is ons steeds in die groot, donker bos, maar ons is nou besig om uit die bos uit te hardloop. Daar is dus steeds baie onsekerhede rondom ons, maar ten minste begin daar nou lig skyn op die horison. Mens kan ook waarneem dat daar onderliggend op finansiële markte wêreldwyd iets positiefs begin broei.

Die groot batebestuurders is ook versigtig optimisties oor 2017 (heelwat meer as 2016).Weer eens kan ek die vraag vra: is dit nie nou tyd om bietjie meer risikoblootstelling te verkry nie? Indien jy ’n belegger is oor ’n langer termyn en jy sit tans met jou kapitaal op vasterente-beleggings, kan jy dit baie sterk oorweeg om ’n gedeelte van jou kapitaal te begin skuif na markverwante beleggingsfondse, al is dit lae aandeelfondse.

Moenie wag tot die markte reeds opgeswaai het en dan wil skuif nie; jy gaan baie mis. Ook belangrik, bepaal watter tipe belegger jy is. Dit sal jou baie help met toekomstige beleggingsbesluite.

Ek het so ’n paar weke gelede die vraelys wat ek vir jou kan stuur, wat jou sal help om jou toleransie vir beleggingsrisikorisiko te bepaal, genoem. Dié wat dit steeds wil ontvang, kan gerus ’n e-pos stuur na horace@nassaux. com en ek stuur dit vir jou aan.– Horace Terry
horace@nassaux.com