Die blikkie skeerroom

0
202

In die badkamerkassie staan my blikkie skeerroom. Vir baie jare skeer ek met ‘n skeermes en lemmetjie, want vir my vel is dit die beste. Ek besef egter dat ek seep en skeerroom nodig het om my gesig op sy beste te laat voel. Dit maak die baard sag, beskerm die vel en keer dat ek nie ‘n uitslag kry nie.
So is dit ook met jou en my geestelike lewe. Ons het iets nodig om die beste uit ons lewe en persoonlikheid uit te haal. In Gal.5:16-26 lees ek van die Heilige Gees en die vrug van die Gees. Die woorde in vers 26 lees: “ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”
Dadelik dink ek aan die blikkie in my kas. Hoe lyk die blikkie? Wat maak die blikkie aantreklik? Wat maak dat ek die spesifieke blikkie skeerroom wil gebruik? Die vraag sou wees – hoe lyk ons lewe? Watter prentjie gee ons vir mense wat elke dag saam met ons leef? Watter aantreklike eienskappe waarmee ons mense kan oortuig, vorm deel van ons lewe?
Dan lees ek in vers 22: “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” Met sulke dinge, wil ek byvoeg, moet die blikkie gevul wees. Wat ‘n uitdaging!

DS STEPHAN VAN HEERDEN