Deel van Christel se wortels in Bfn begrawe

0
624
Christel van den Bergh FOTO: ANRIKA STAUDE

Almal ken Christel van den Bergh as Renate Greeff in Getroud met Rugby, maar dié sepiester het reeds vantevore ‘n draai in die Rosestad gemaak toe sy maar sowat 10 jaar oud was.
Van den Bergh is in Pretoria gebore, en het in 1992 en 1993 in Bloemfontein gewoon en by Universitas Primêre Skool, oftewel Tjokkies, skoolgegaan. Sy vertel dat sy baie goeie herinneringe van Bloemfontein het. “Ek het die beste maatjies gemaak en wou nie terugkom Pretoria toe nie,” vertel sy.
Haar pa het in daardie stadium vir LIW (nou Denel SOC Ltd) as projekbestuurder op van die weermagtenks, o.a die Rooikat, gewerk. “Ons het gedurig saam met my pa gegaan as hulle die tenks by Tempe getoets het, en binne-in die tenks gery. Dit was amazing!” deel Van den Bergh van haar herinneringe.
Sy het wel ook ‘n onthoustorie wat trane veroorsaak het. “Ons honde het weggeloop. Ek is nou nog hartseer daaroor,” vertel sy.
Die ster-aktrise se sukses het nie net in haar skoot geval nie. “Voor Getroud met Rugby het ek vir 14 jaar vryskutwerk gedoen. Ek was al in 10 films, tonne televisiereekse, sitkoms en sepies, en het al die land plat getoer met teaterproduksies,” vertel sy.
Van den Bergh is ook eersdaags in die nuwe fliek, Vuil wasgoed, te sien. “In Vuil wasgoed, speel ek Louise Gotty, Joe Gotty se vrou, en Manny Gotty se skelmpie. Kom ons sê net haar affair het haar hoegenaamd nie goed gedoen nie. Dit is ‘n baie klein rolletjie, maar ek dink my een toneel is definitief een van die top-drie tonele in die fliek!” skerts sy.
Van den Bergh het ook vir opkomende jong akteurs en aktrises goeie raad: “As jy ‘n jong aktrise is, beteken dit jy het geswot en/of jy het ervaring. Jy’s goed genoeg! Moenie moed opgee nie wanneer jy dit die maak nie. Dit vat soms lank, maar dis die moeite werd!”
“Bly besig met ander werk in die bedryf terwyl jy nie act nie. Dis belangrik om die regte mense te ontmoet! Probeer jou eie geleenthede skep! Gaan vir elke liewe oudisie! As jy dit nie kry nie, moet dit nie persoonlik opneem nie. Dis só subjektief. Maak seker jy’s voorbereid! Werk hard, fokus en hou aan!”

JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za