Dealesville binnekort sonder water

0
851
Watervoorsieningsooreenkoms ná ses maande gestaak in Dealesville.

Die AfriForum-tak in Dealesville het aangekondig dat hy vanaf 31 Augustus 2016 nie meer die kostes sal kan dek om water aan Dealesville te voorsien nie, met die gevolg dat inwoners moontlik sonder water gelaat gaan word. AfriForum het dié verantwoordelikheid vir die afgelope ses maande gedra.

Dít volg nadat die dorp weens die erge droogte en swak munisipale bestuur onder ʼn waterkrisis gebuk gegaan het en die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit ná herhaaldelike waarskuwings en aanmanings nagelaat het om ʼn watervoorsieningskontrak met ʼn boer in die omgewing te hernu.

“Ons het die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit reeds in Desember 2015 op terme geplaas om die watertoevoer na die dorp te herstel, maar die munisipaliteit het nie aan hierdie aanmaning gehoor gegee nie. Sedertdien verskaf AfriForum water aan die gemeenskap, terwyl die plaaslike munisipaliteit niks doen aan die waterkrisis wat in die dorp heers nie. Ongelukkig het ons fondse drooggeloop, met die gevolg dat die inwoners moontlik binnekort sonder water gelaat gaan word,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se streekskoördineerder vir die Vrystaat.

Uitgereik deur Afriforum