Damean vertoon goed vir SA in buiteland

0
801
Die uitstekende Aerocare Bloemfontein Courant-fietsryspan se Damean Oosthuizen (tweede van links) het die afgelope paar weke sy man gestaan in Europa. Hy het die Suid-Afrikaanse junior span op die UCI (Union Cycliste Internationale)-reeks verteenwoordig. FOTO: BARRY AUSTIN

Aerocare Bloemfontein Courant-fietsryspan se kranige fietsryer, Damean Oosthuizen, het die afgelope paar weke in verskeie groot Europese wedrenne sy man vir die Suid-Afrikaanse junior span in die groen en goud gestaan.

Maar, dié wedrenne was nie dieselfde as waaraan Oosthuizen in Suid-Afrika gewoond is nie. Hy het vir Courant gesê: “Padwedrenne word oor korter roetes van verskeie 5km- rondtes beslis en deelnemers jaag gereeld teen sowat 45km per uur. Wat dit moeilik maak, is dat daar baie kort draaie in dié wedrenne is om te bemeester. Posisioneringstaktiek is van die uiterste belang.”

Oosthuizen het egter voor die UCI (Union Cycliste Internationale)-wedrenne, waar genoemde Suid-Afrikaanse span aangetree het, reeds aan ‘n paar plaaslike Europese wedrenne deelgeneem om aan dié toestande gewoond te raak. Hy het in sy tweede wedren ‘n puik algehele (seniors en juniors inkluis) 18de plek ingeneem.

Dit was egter ‘n groot bondel wat almal gelyk op die eindstreep afgejaag het en dit het die Duitse en Nederlandse junior kampioene ingesluit. Hy het in kleiner oefenwedrenne verskeie plekke onder die voorste tien gevul, waarvan sy vierde plek in Landgraaf, Nederland, die beste was.

Die Suid-Afrikaanse span, Oosthuizen inkluis, het hul goed van hul taak gekwyt en dit was opmerklik hoe hulle met elke wedren verbeter het. Die span het onder meer ‘n eerste en tweede plek ingeneem in van die junior wedrenne en ook waardevolle ICU-punte versamel.

Oosthuizen het verder aan Courant gesê: “Dit was ‘n harde leerskool, met meer as 18 lande wat elk ses juniors ingesluit het wat meegeding het.” Sy beste plek in die UCI-wedrenne was 38ste, wat hy in sy laaste wedren behaal het.

Oosthuizen, wat bekend is vir sy sterk naelritte, het verskeie keer die bondels waarin hy gejaag het eindstreep toe, gefnuik en hulle agterweë gelaat.Hy het ook in België goed vertoon deur die vierde plek in te neem in ‘n oefenwedren en het ‘n tiende plek bygevoeg in ‘n junior wedren in Opwijk (België). – RUFUS BOTHA