Daar’s nie ‘n perfekte spaarproduk nie

0
250
Daar is nie een enkele spaarproduk wat net voordele aan jou bied nie.

Gister gesels ek met ‘n persoon wat op soek is na ‘n spaarproduk wat belastingvriendelik is, buite sy boedel sal val, likied is en begunstig kan word. Soiets bestaan ongelukkig nie.
Daar is nie een enkele spaarproduk wat aan jou net voordele bied en geen nadele of beperkinge het nie. Waar moontlik, en waar jy dit kan bekostig, sou dit wys wees om jou spaarbehoeftes met ‘n kombinasie van produkte aan te spreek. Jou spaarbehoeftes kan onder die hofies van kort-, medium en langtermyn geklassifiseer word. Onder jou korttermyn-spaarbehoeftes sal dinge soos ‘n noodfonds wees asook spaar vir vakansies, luukshede en ander lekker dinge. Om gelde te akkumuleer vir jou korttermynbehoeftes sal jou help om nie aankope te finansier met persoonlike lenings en kredietkaarte nie.
Gebruik lae-risiko-effektetrustfondse vir dié doel en teken maar ‘n debietorder, sodat jy seker is daar gaan elke maand getrou ‘n bedraggie na die fonds. Jou mediumtermyn-spaarpoging sou wees om iets in die toekoms te finansier, waarskynlik 5 jaar of langer van nou af.
Vir dié doel sal effektetrusts ook goed werk; jy kan nou fondse gebruik wat bietjie meer risikoblootstelling (aandele) het. Indien jy egter iemand is wat sukkel om te spaar of wat ‘n redelike hoë belastingskaal het, sou dit wys wees om eerder ‘n uitkeerpolis vir dié doel te gebruik. Oorweeg dit om met die aankoop van jou volgende motor ook ‘n 5 jaar-uitkeerpolis uit te neem. Wanneer dié polis ná vyf jaar beskikbaar is, het jy saam met jou bestaande motor se inruilwaarde ‘n lekker groot deposito vir jou volgende motor.
Jou langtermyn-spaarbehoeftes is hoofsaaklik befondsing vir jou aftreejare. Jy kan egter ook spaar om by aftrede te verseker jy betaal alle skuld klaar en jy nie geld uit jou pensioen-/voorsorgfonds vir dié doel hoef te gebruik nie. Jy gaan die beste opbrengs op die lang termyn op ‘n uittree-annuïteit verdien aangesien alle opbrengste belastingvry is, gegewe die feit dat die premie belastingaftrekbaar is en bydra tot ‘n laer netto bedrag wat eintlik gespaar word (alhoewel ‘n groter bedrag aangewend word).
Vul egter jou langtermyn-spaarpoging verder aan met ‘n belastingvrye belegging en as jy nog geld oor het, kan jy ‘n aggressiewe effektetrustfonds ook inspan. Uit dié rubriek kan jy dus duidelik agterkom dat effektetrusts oor die algemeen gebruik kan word om enige ander spaarproduk aan te vul. – Horace Terry
horace@nassaux.com