Credence se hoof woedend oor vals gerugte

0
1475

Die onbevestigde gerugte wat op sosiale media versprei word oor ‘n verdagte ontvoerder wat na bewering gister kinders by die Laerskool Credence in Heidedal wou ontvoer, is vals.
Maureen Ridgard, Credence se hoof, het vandag aan Bloemfontein Courant gesê sy is briesend oor die vals berigte wat oor gebeure by Credence versprei word.
Luidens ‘n inskrywing gister op Facebook het die polisie ‘n man by Credence in hegtenis geneem nadat dié probeer het om kinders te ontvoer. ‘n Foto van die beweerde “ontvoerder” was by die inskrywing aangeheg.
“Mense hoor ‘n halwe gerug en gaan op hol daarmee, sonder om te dink hoeveel skade hulle aanrig. Die man wat volgens die Facebook gerugte deur die polisie in hegtenis geneem is, is in werklikheid ‘n gerespekteerde ouer van die skool wat vir sy dogter gewag het om haar hokkie-oefening te voltooi.
“Ek kan nie beskryf hoe sleg ek daaroor voel nie. ‘n Onskuldige ouer word nou as ‘n ontvoerder gebrandmerk. Boonop het die ouer ook nie voor die skool staan en wag nie, maar op die hoek. Hoekom die skool se naam nou hierby ingesleep word, gaan my verstand te bowe. Mense moet dink voordat hulle goed op Facebook plaas,” het ‘n woedende Ridgard gesê.
Intussen het die polisie ook vandag gesê dié en ander gerugte oor ‘n ontvoeringsindikaat wat in Bloemfontein doenig is, is onwaar.
Polisiewoordvoerder, Sam Makhele, sê mense moet kalm bly. “Ons het nog geen formele klagte gekry van naasbestaandes of familie dat hul geliefdes vermis word nie. Ons wil ‘n pleitdooi rig aan die mense wat hierdie valse gerugte versprei om onmiddellik daarmee op te hou.
“Mense wat sulke ongetoetste stories versprei, moet onthou dat hulle krimineel aangekla kan word, veral as dit gaan oor beweerde misdadigheid wat nie by die polisie aangemeld is nie,” sê Makhele.
Die Vrystaatse polisiekommissaris, Lebeoana Tsumane, sê die vals boodskappe op sosaile media is baie onstellend en die verspreiding daarvan is uiters onverantwoordelik. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za