Collings en Massyn behaal uitsonderlike prestasie

0
641
Mike Collings (links) en Louis Massyn het Saterdag by die Kersiefees-bergwedloop wat in Ficksburg beslis is, die dieselfde uitsonderlike prestasie opgedis. Albei hierdie bekendes in Vrystaatse langafstandhardloop geledere, het dié wedloop die 30ste keer voltooi. FOTO: RITA MASSYN

Die bekende Bloemfonteiner in langafstandkringe, Mike Collings, en die Comrades-ultramarathonlegende, Louis Massyn, het Saterdag by die Kersiefees-bergwedloop wat oor ‘n afstand van 23km in Ficksburg beslis is, dieselfde uitsonderlike prestasie opgedis.

Albei hierdie langasems het dié wedloop, wat sy eerste lig in 1978 gesien het, die 30ste keer voltooi.

Massyn het in die eerste wedloop (1978) algeheel tweede geëindig nadat die voormalige Springbok-marathonatleet, Kevin Flanagan, oorwinning gesmaak het. Hy het daarna ‘n paar wedlope misgeloop, maar Saterdag sy 30ste voltooi.

Massyn is een van slegs twee atlete wat die vermoeiende Comrades-ultramarathon 44 keer agtereenvolgens kon baasraak.

Courant het met Collings gesels: “Ek het my eerste Kersie in 1985 voltooi en daarna slegs 1993 en 2009 se wedlope misgeloop.” Hy het bygevoeg dat hy in 1993 gesukkel het met ‘n senuwee wat geknyp het en in 2009 het hy erg griep onder lede gehad.

Courant wou ook van Collings weet watter wedlope vir hom gedurende die jaar uitstaan: “Ek hou baie van die Kersie en dié wedloop sal my altyd na aan die hart lê. Ek moet egter byvoeg dat die Harrismith-bergwedloop en Lammergeyer-wedloop vir my ook uitstaan.”

Pule Hlabahlaba, voormalige deelnemer aan die wêreld-veldwedloopkampioenskap, het geen moeite ondervind om Saterdag die algehele eersteplek in te neem nie. Hy het ‘n wentyd van 1:20:28 daargestel.

Sy tyd is egter meer as vyf minute stadiger as die wedlooprekord (1:15:00) wat een van die beste langasems van alle tye in Suid-Afrika, Mathew Temane, in die tagtigerjare opgestel het.

Hlabahlaba is op sy beurt meer as vyf minute later gevolg deur William Morobe (1:25:38).
Die vroue-afdeling is gewen deur Rosalina Vangile. Die tweede en derde plekke is onderskeidelik gevul deur Margo Landman en Monica Theron. Daar was ongelukkig teen druktyd nie tye beskikbaar vir die wenners in die vroue-kategorieë nie. – RUFUS BOTHA