Cheetah-rugbyspelers besoek kinderhuis in Bfn

0
239
Fotos: Mark Steenbok

Kinders van die Sunflower Hospice in Bloemfontein het onlangs ‘n verrassingsbesoek van drie Vrystaat Cheetahs rugbyspelers ontvang, toe die spelers as deel van die My Players Activation met die kleintjies gesels, gespeel en baljaar het.

Die My Players Activation wat deur spelers bevorder word en na gemeenskappe uitreik, het op 7 September ‘n tjek van R30 000 aan die kinderhuis oorhandig. Old Mutual het R20 000 bygedra. Nayniso Sam, van My Players Activation, sê dit was nie ‘n moelike besluit gewees om die Hospice as ‘n skenker te indentifiseer nie.

“Op die einde van die dag word ons deur die spelers gelei oor aan wie ons ‘n skenking moet gee. Die werk wat al hier deur die Cheetah-vrouens en -meisies gedoen is, is wonderlik en dit was nie moeilik om te sien hoekom die spelers spesifiek dié hospice gekies het nie,” sê Sam.

img_2952

Onder leiding van Tania Smith, vrou van die Cheetahs se rugbyafrigter, Franco Smith, het die Cheetahs se wederhelftes besluit om as ‘n entiteit projekte aan te pak waarby die gemeenskap kan baat.

Die vroue het vroeër onder meer besluit om die huis binne te verf, die kamers te versier met nuwe beddegoed en gordyne, die speelterrein op te knap sodat dit ook rolstoelvriendelik is, die sekuriteit op te knap, en nog meer.

Dié hospice kry geen hulp van die staat nie en die werknemers se toewyding teenoor die siek kinders strek baie keer verder as wat van hulle verwag word. Die tehuis is op die terrein van die Nasionale Hospitaal geleë.

img_2942

Die Cheetah-agterspeler en staatmaker, Rayno Benjamin, of ‘Benji’ soos hy alombekend is, het aan Courant vertel dat dit tyd geword het vir die spelers om ook hul deel te doen vir die gemeenskap.

“Dit begin by ons as ‘n groep. Ons gebruik altyd die woord, omgee. Die meisies en vrouens het reeds hul deel gedoen. Ons het toe as spelers besluit om ook moeite te doen,” sê Benjamin.

img_2929

Melinda Muller van die hospice sê die skenking en werk deur die Cheetah-vrouens maak reeds ‘n enorme verskil.

“Ons het veertien kinders waarna ons kyk met lewensbedreigende siektes. In ons gemeenskapsprogram het ons ongeveer 386 kinders wat ons tuis besoek en van klere, komberse en kos voorsien. Die geld sal vir verskeie doeleindes soos vervoer, basiese benodigdhede en instandhoudingswerk aangewend word,” sê Muller.

-Mark Steenbok