Chanté wéér bobaas in bergfietswedrenne

0
759
Chanté Olivier het die naweek by die Spur bergfiets (MTB) -eindrondtes vir skole én by die tussenprovinsiale MTB-byeenkoms in die ouderdomsgroep vir sub-juniors ‘n goue medalje by elkeen van dié uiters mededingende byeenkoms gewen. FOTO: DERCKSEN OLIVIER

Die bobaas bergfietsjaer van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, Chanté Olivier was die naweek oudergewoonte onkeerbaar toe sy by die Spur bergfiets (MTB) -eindrondtes vir skole wat by die Hoërskool Bekker in Magaliesberg beslis is die septer geswaai in die ouderdomsgroep vir sub-juniors.

Tydens die skolebyeenkoms wat Saterdag beslis is, is wedrenne oor rondtes van 4,3km beslis en afgehandel wat in MTB-terme beskryf word as “Cross Country Olympic” formaat.

Olivier het in haar ouderdomsgroep met twee rondtes van 4,3km te doen gekry op ‘n nat en modderige oppervlak en gerieflik oorwinning gesmaak in 26:55.

Sy het sodoende genoegsame punte vir haar skool (Sentraal) ingeoes om ‘n tjek van R10 000,00 in Sentraal se bankbalans ‘n hupstoot te gee.

Tydens die tussenprovinsiale byeenkoms (Sondag) waar getalle deelnemers aansienlik meer was as tydens die skole-byeenkoms die vorige dag, en wat op dieselfde baan en oor dieselfde afstand beslis is, het Olivier twee keer met die grond kennis gemaak in ‘n sukkeltog om haar deur te wurm en sodoende gepoog het om botsings met stadiger jaers te vermy.

Olivier het vir die Vrystaat die goue medalje in haar ouderdomsgroep losgetrap en was die enigste Vrystater wat ‘n podium posisie kon losjaag. – RUFUS BOTHA