Chanté trap wéér twee goues los op SA’s

0
751
Die 13-jarige Bloemfonteiner, Chanté Olivier, het verlede week in Wellington (Wes-Kaap) die bykans ongelooflike onderskeiding behaal om die nasionale padwedren sowel as tydtoets vir die sesde jaar agtereenvolgens te wen. FOTO: DERCKSON OLIVIER

Dit grens aan ongelooflik dat ‘n 13-jarige fietsryer die Suid-Afrikaanse (SA) padwedren én tydtoets-titels vir die sesde jaar agtereenvolgens gewen het. Dit is presies wat die uitmuntende fietsryer van Bloemfontein, Chanté Olivier, verlede week op die nasionale padfietsrykampioenskap in die afdeling vir meisies o.15 in Wellington (Wes-Kaap) vermag het.

Olivier het op die ouderdom van sewe jaar die eerste keer die genoemde SA titels gewen en dit daarná vir nog vyf jaar agtereenvolgens reggekry. Dit het vanjaar grootse veggees van dié blondekop geverg om die knoop in die padwedren deur te hak.

Sy was in ‘n titaniese stryd met Chloe Bateson (KZN) betrokke en die wedren het in ‘n naelbytrit na die eindstreep ontaard, iets waaroor daar lank gepraat gaan word.

Olivier en Bateson was só na aan mekaar oor die eindstreep dat die elektroniese tydapparaat hulle nie tot op ‘n honderdste van ‘n sekonde kon skei nie. Olivier is tot op ‘n duidendste van ‘n sekonde (58,21,951) as oorwinnaar met slegs 33 duisendstes van ‘n sekonde voor Bateson (58:21,984) verklaar.

In die tydtoets was Olivier onstuitbaar en het sy dié dissipline in ‘n kookwater 26:30,796 gewen. Sy klop dié keer vir Bateson (27:19,646) met bykans 50 sekondes. Die Gautenger, Lalique Broxham (30:05,572), het met haar derde plek nóg minder gevaar vir Olivier ingehou.

Die gestremde fietsryer van Bloemfontein, Juan Odendaal, het self met twee SA titels huiswaarts gekeer. Hy het in die C3-afdeling vir fisieke gestremde fietsryers ook die tydtoets en padwedren agter sy naam geskryf.

Nog ‘n Bloemfonteiner wat goed vertoon het, was Simone Faber. Sy het in die tydtoets vir meisies o.17 ‘n mooi tweede plek behaal en weer op die podium verskyn vir ‘n bronsmedalje in die padwedren.