Casper ‘gaan Bos’ met lentemodes

0
387
Casper Bosman kry ‘n groot applous van die gehoor tydens gisteraand se modevertoning van Kindersorg Bloemfontein en Childline Vrystaat by die Ramblersklub in Bloemfontein. FOTO'S: LANI FOUCHE

Casper Bosman, gunsteling-ontwerper van heelparty van Bloemfontein (en Suid-Afrika) se bekendes, het gisteraand by die Ramblersklub gewys waarom honderde vroue hom verafgod.
Met ontwerpe wat talle “oe’s” en “aa’s” van die oorwegend vroulike gehoor ontlok het, het hy Kindersorg Bloemfontein en Childline Vrystaat se modeskou op behoorlike wyse afgesluit.
Waar die Carducci-vertoning, wat Casper s’n voorafgegaan het, met klassieke, skoon lyne beïndruk het, was Casper se reeks duidelik ontwerp om vroulikheid te beklemtoon. Die lyne was sag en vloeiend en die kleure flambojant en uitdagend.
Albei ontwerpers het met hul mansreekse die veilige weg gekies. Hoewel die mansmodelle goed vertoon het in die noupassende pakke, was die kleure basies en die ontwerpe klassiek. Net hier en daar het hulle verras (en soms geskok!) met ‘n kleurvolle pak.
Die ontwerpers se keuse van modelle het ontgetwyfeld tot hul voordeel gestrek. Die modelle het hulle meestal goed van hul taak gekwyt. Kledingstukke is met groot grasie vertoon en die gehoor het meeste van die tyd vasgenael na die loopplank gestaar.
Te oordeel na gisteraand se vertoning, kan Bloemfonteiner uitsien na modieuse en pragtige somer. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za