Burgemeester se ampsmotor na bewering geteiken

0
311

Die polisie in die Vrystaat ondersoek ‘n klag van opsetlike saakbeskadiging nadat die burgemeester van die Kopanong-munisipaliteit se ampsmotor met ‘n voorwerp beskadig is.

Polisiewoordvoerder, Mosili Ntsika, sê ‘n venster van dié ANC-munisipaliteit se burgemeester, Xolile Matwa, se silwer Mercedes Benz is Maandagmiddag in die ry deur iemand in ‘n ander motor met ‘n voorwerp stukkend gegooi.

Ntsika sê Matwa was nie in die motor nie. Volgens haar het die burgemeester se bestuurder, wat alleen in die ampsmotor met donker getinte vensters was, omstreeks 14:15 van die N1-snelweg op die Trompsburg-afrit afgedraai.

‘n Swart Volkswagen Jetta met ‘n GP-registrasienommer het Matwa se ampsmotor net voor die afrit verbygesteek en op die afrit stadiger gery totdat die ampsmotor verbygery het.

Iemand in die verdagte motor het toe ‘n voorwerp na die ampsmotor gegooi. Die linker agterste venster het gebreek.

Matwa se bestuurder het nie gestop nie en die swart verdagte motor het weggery.

Ntsika sê die motief van die voorval is onbekend. Sy wou ook nie oor die voorwerp uitbrei nie.

Die munisipale woordvoerder, Solly Thama, het ook nie by navraag kommentaar gelewer nie. Volgens hom word die voorval nog ondersoek.

Die Kopanong-munisipaliteit sluit onder meer dorpe soos Trompsburg, Springfontein, Jagersfontein en Reddersburg in. – Christal-Lize Muller