Buitelanders té sterk vir Bloemfonteinse driekampers

0
932
Jayme-Sue Vermaas, het Saterdag vir Suid-Afrika 'n skaflike vertoning gelewer op die wêreldbeker-driekampbyeenkoms vir elite- senior vroue in Kaapstad. FOTO: ADRI VERMAAS

Die drie Bloemfonteinse driekampatlete wat die onderskeiding behaal het om Suid-Afrika Saterdag op die wêreldbekerbyeenkoms vir elite- senior vroue in Kaapstad te verteenwoordig, Carlyn Fischer, Jayme-Sue Vermaas en Madelaine le Roux, het te doen gekry met ‘n krag van buitelandse deelnemers wat hulle nie veel aan die Suid-Afrikaners in dié wedloop gesteur het nie.

Die buitelanders het die eerste 14 plekke ingeneem voordat die eerste Suid-Afrikaner, Anel Radford (1:01:53), in die 15de posisie haar opwagting gemaak het. Die twee Britte, Lucy Hall (59:34) en Jessica Learmonth (59:35), was onderskeidelik eerste en tweede en Hall het die septer met slegs een sekonde geswaai. Hulle was egter meer as twee minute voor Radford.

Fisher was die eerste Bloemfonteiner wat die wedloop voltooi het en het die 19de plek gevul met ‘n tyd van 1:03:29 – nie te versmaai nie, gemeet aan die vertonings van haar mede-Suid-Afrikaners. Fischer was die derde Suid-Afrikaner en het agt van haar spanmaats in die groen-en-goud uitgestof. Sy kan veral tevrede voel met haar haastige hardloopskof (5km) wat sy in 17:53 voltooi het. Dit was die vinnigste hardloopskof onder die 11 deelnemers van die reënboognasie.

Saterdag was Fischer se eerste verskyning in nege maande tydens ‘n ITU (International Triathlon Union)-byeenkoms en wees verseker, met haar veggees en deursettingsvermoë, kan haar vertoningslys vanjaar slegs ‘n opwaarste kurwe beleef. Sy het op haar Facebook-bladsy gesê dit was ‘n eer om haar land te verteenwoordig en dat dit goed voel om gesond en beseringvry te wees. Sy het ook gesê dat sy baie opgewonde is om weer deel te neem.

Vermaas kan self tevrede voel met haar vertoning. Sy was die enigste Suid-Afrikaanse vrou vanjaar wat steeds ‘n junior is om in Kaapstad koppe te stamp en 25ste te eindig in 1:05:26. Dit was ook haar persoonlike beste tyd oor dié afstand.

Deelnemers het 750m geswem, 40km fietsgery en daarna 5km gehardloop.

Vir Le Roux is dit vanjaar haar eerste jaar vir deelname in die senior afdeling vir vroue. Sy was verlede jaar nog die Afrika-driekampkampioen in die junior afdeling. Sy moes Saterdag ongelukkig halt roep tydens die fietsryskof. Beamptes het haar volgens die reëls van die wedloop afgetrek nadat sy met ‘n rondte van agter deur die voorlopers ingehaal is. In sportterme is dit beter bekend dat sy “ge-lap” is.

Le Roux was egter nie die enigste Suid-Afrikaner wat op hierdie wyse nie toegelaat is om die wedloop te voltooi nie. Alexandra Quenet het dieselfde bloutjie in haar nasionale kleure geloop. – RUFUS BOTHA