Boek verklap soveel meer oor geliefde Emily

0
1380
Bekende joernalis en skrywer van Emily Hobhouse: Geliefde verraaier, Elsabé Brits.

So ‘n groot deel van Emily Hobhouse se verhaal is nog nie vertel nie. Ons weet van die wonderlike werk wat sy in konsentrasiekampe gedoen het, maar sy was soveel méér as dit.
Só gesels joernalis en skrywer, Elsabé Brits, oor die Boereoorlogheldin, Emily Hobhouse. Brits se jongste boek, Emily Hobhouse: Geliefde verraaier, word vir die eerste keer op Vrouedag gepas by die Vrouemonument in Bloemfontein bekendgestel.
Brits meen Hobhouse is ‘n bietjie onregverdig deur die geskiedenis behandel. “Sy word graag as ‘n tipe romantiese figuur beskryf, ‘n tannetjie, ‘n maatskaplike werker. Dit is verkeerd. Sy was ‘n liberaal, ‘n demokraat in hart en siel, ‘n pasifis, ‘n intellektueel en ook ‘n fantastiese skrywer.” Daarom was dit vir Brits belangrik om haar hele verhaal uit háár oogpunt te vertel.
Hobhouse was vyf keer in Suid-Afrika, sy het weefskole begin en ‘n briljante plan van stapel gestuur ná die Anglo-boereoorlog. Vir byna ‘n jaar lank het sy ploegspanne bymekaar gekry wat amper die hele Vrystaat en Transvaal omgeploeg het nadat almal se plase afgebrand, hul vee doodgemaak en hul landerye verwoes is. Brits vertel daar was in daardie stadium grootskaalse hongersnood in hierdie dele.
“Sy het hierdie fantastiese plan gehad om ploegspanne aan te koop, wat dan van distrik tot distrik gegaan het en die boere gehelp het. Niemand het iets gedoen ná die oorlog nie, almal het net in sak en as gesit.”
Dit is nadat sy hierdie storie raakgelees het dat Brits besluit het sy wil meer oor hierdie Engelse vrou weet. Sy het daarna ‘n artikel vir Die Burger geskryf vir die 100 jaar- herdenking van die inspirerende toespraak wat sy in 1913 tydens die inwyding van die Vrouemonument gelewer het.
“Daar is geweldig baie oor die vroue in die konsentrasiekampe geskryf, maar hoe het Emily gevoel oor dinge? Stel jou voor jy bring ‘n hele dag in ‘n konsentrasiekamp deur en gesels met almal, en saans klim jy op die trein en vertrek na die volgende plek. Wat het in haar kop aangegaan? Ons ken die slagoffers se verhale, maar ken ons die verhaal van Emily nadat sy die hoeveelste kind voor haar sien sterf het?”
Met haar navorsing het Brits besef sy sal na Hobhouse se ‘plekke’ moet gaan. Haar navorsing het haar gelei na Die Kwakers (Godsdiensgenootskap van Vriende) se argiewe in Brittanje, die London School of Economics se Women’s Library, die Britse biblioteek, St Ives, waar Hobhouse grootgeword het en waar sy tot op 35-jarige ouderdom gewoon het, asook haar pa se kerk. EmilyAfr_voorplat“Ek was ook uiteindelik by haar broer se familie in Kanada. Daar het haar broer se seun se dogter ‘n enorme versameling van haar werk gehad, waaronder dagboeke en haar plakboeke. Ek wou by die hart van dié vrou uitkom. So het ek ontdek dat sy ook tydens die Eerste Wêreldoorlog by noodleniging betrokke was, selfs in Rusland. Min mense weet haar verhaal hou nie by die Anglo-boereoorlog op nie.”
Brits beskryf Hobhouse ook as ‘n feminis, ‘n vegter vir vroue se stemreg. “Sy het in 1908 by die Suffragette-beweging, wat hulle beywer het vir stemreg vir vroue, aangesluit. Sy was vir seker ‘n feminis en as jy die boek lees, sal jy sien watse uitsprake sy vir vroueregte gemaak het.”
Hobhouse het ook in haar toespraak in 1913 gesê die Vrouemonument is die eerste monument wat vroue eer vir wat hulle gedoen het in ‘n oorlog, en nie die mans wat die oorlog veroorsaak het nie, vertel Brits. “Regdeur die boek sal jy sien die uitsprake wat sy teenoor mans maak wat in haar oë die wêreld opmors.”
Brits meen dit is belangrik om te onthou dat Hobhouse destyds na Suid-Afrika gekom het omdat sy teen die oorlog was, nie omdat sy polities vír die boere was nie. Sy het gevoel wat haar land doen in haar land se naam is moreel en eties verkeerd.
Die eerste bekendstelling van Emily Hobhouse: Geliefde verraaier, word dan ook gehou by die plek waar Emily se as vandag lê. Brits sê dit gaan vir haar ‘n besonderse, spesiale geleentheid wees. “Hier by die beeldegroep, waartoe Emily self bygedra het met die ontwerp daarvan. Ek weet nie hoe baie mense weet nie, maar Anton van Wouw het die beeldegroep ontwerp en hy het dit in Rome gemaak. Emily was by terwyl hy dit gemaak het en sy het insette gelewer. Die besonderse, sentrale beeldegroep van die vrou wat sit met die dooie kind op haar skoot en die ander vrou wat agter haar staan, is ‘n ware toneel wat sy self op Springfonteinstasie gesien het tydens die Anglo-boereoorlog en dit het ‘n roerende en tragiese storie daaragter wat ek breedvoerig in die boek beskryf.”
Emily Hobhouse: Geliefde verraaier is volkleur, in twee tale gedruk, met byna 120 foto’s en uittreksels uit dokumente. Dit is ‘n lekker leesboek en klink beslis soos ‘n toeganklike biografie. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za

Bruikbare Nuus

Emily Hobhouse: Geliefde verraaier word op 9 Augustus om 18:00 by die Oorlogsmuseum by die Vrouemonument bekendgestel. Elna van der Merwe, boekeredakteur van Huisgenoot is die gespreksleier. Almal is welkom maar dit is belangrik om jou bywoning by rsvp@nb.co.za of 021-406-3477. Die boek sal by die bekendstelling te koop wees. Kopers op die aand sal ‘n versameleaarsitem saam met hul boek ontvang.