Bloemfonteinse dokter steeds kritiek ná motorongeluk

0
3032
Die ongelukstoneel, waarin dr. Werner van Pletzen en sy dogter, Lara, beseer is. FOTO: VERSKAF ER24

‘n Bekende Bloemfonteinse dokter is steeds in ‘n kritieke toestand in ‘n plaaslike hospitaal nadat hy en sy tienerdogter meer as ‘n week gelede ernstig in ‘n motorongeluk buite die stad beseer is. Die Mediclinic Bloemfontein het minute gelede (08:30) aan Bloemfontein Courant bevestig dat Werner van Pletzen, ‘n algemene praktisyn, steeds in dié hospitaal se intensiewesorgeenheid behandel word.

Hospitaalwoordvoerder, Carl Buhrmann, sê VAn Pletzen is aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel. Sy dogter, Lara, wat onder meer ‘n longbesering opgedoen het toe die bakkie waarin hulle gery het op Oujaarsdag naby die Rustfonteindam by Botshabelo op ‘n grondpad gerol het, sterk goed aan in dié hospitaal. Volgens Buhrmann is die 16-jarige Lara intussen van die intensiewesorgeenheid na ‘n gewone saal oorgeplaas. Volgens ER24, wat op die toneel was, het Van Pletzen en sy dogter albei ernstige kopbeserings opgedoen.

Hy was vasgekeer in die wrak van sy bakkie, wat in die middel van die veld op sy kant gelê het. Reddingstoerusting moes gebruik word. Lara het buite die bakkie gelê. Van Pletzen se seun, Werner, en ‘n vriend van hom was ook in die bakkie. Hulle is nie ernstig beseer nie. Buhrmann sê hulle is nie in die hospitaal opgeneem nie. – Christal-Lize Muller