Bloemfonteiner wen Welkom se eerste Park Run

0
924
Die legendariese Bruce Fordyce (middel) staan hier by die wenners van die eerste Park Run wat in Welkom aangebied is. Regs is die Bloemfonteiner, Claus Kempen, wat algeheel eerste geëindig het. By hulle is Ronell Naudé wat eerste was onder die skoner geslag. FOTO: RUFUS BOTHA

Die bekende Comrades-ultramarathon-atleet van Bloemfontein, Claus Kempen, het Saterdag eerste klaargemaak in die eerste 5km-Welkom- Park Run wat in gure weer by St. Dominic-skool in die sirkelstad beslis is.

Die weersomstandighede het egter nie verhoed dat die gewildheid van Park Runs in Suid-Afrika weer deeglik onderstreep is nie. Meer as 350 deelnemers het in reën en ysige toestande opgedaag en dié Park Run aangedurf.

Die legendariese nege maal Comrades-ultramarathon-koning, Bruce Fordyce, was oudergewoonte by nog ‘n eerste Park Run in ‘n spesifieke stad en/of dorp. Dié vader van Park Run in Suid-Afrika het voor die aanvang van die wedloop gesê dat daar reeds meer as 600 000 geregistreerde Park Run-deelnemers in Suid-Afrika is.

Fordyce het bygevoeg: “Die aantal deelnemers wat (in Welkom) aangetree het, is die meeste nóg vir ‘n eerste Park Run in enige stad en/of dorp in die land.” Die 61-jarige Fordyce het ten spyte van ‘n lastige kniebesering saam deelgeneem.

Kempen, wat vanjaar aan sy dertiende (en onthou, hy is slegs 33 jaar oud) Comrades-ultramarathon deelneem, het van meet af aan ‘n stewige pas daargestel. Hoewel twee Welkomiete hom opdraende gegee het einde toe, was hy steeds eerste oor die eindstreep.
‘n Jong onderwyser van die gasheerskool, St. Dominic, Ronell Naudé, het eerste onder die vroue geëindig.

Die bekende Comrades-atleet van Odendaalsrus, Louis Massyn, het óók ‘n oefenlopie ingewerk by die Park Run. Massyn gaan vanjaar poog om die eerste atleet in die geskiedenis van die Comrades-marathon dié wedloop vir die 45ste keer agtereenvolgens suksesvol te voltooi. Massyn het sy eerste Comrades in 1973 kafgedraf. – RUFUS BOTHA