Bloemfontein-vrou ontvoer en beroof

0
10740

‘n Bloemfonteinse vrou is ontvoer en beroof terwyl sy by ‘n winkelkompleks by die Bloemfontein Skougronde in Curielaan gewag het.

Parkweg-polisiewoordvoerder, kaptein Chaka Marope, sê die 46-jarige vrou is genader deur ‘n onbekende, gewapende man wat geld by haar geëis het.

Die polisie sê ‘n konfrontasie het tussen die man en vrou in die parkeerterrein ontstaan.

Die man het egter die vrou met die handwapen gedreig en haar gedwing om na die Kenilworth-winkelkompleks in Rocklands, oorkant die kantore van die Departement van Binnelandse Sake, te gaan.

Marope sê op pad na die winkelkompleks het die man die vrou laat stop, haar vasgebind en haar agter in die voertuig laat klim.

By die kompleks het die man die vrou se bankkaart aan ‘n medepligtige oorhandig om geld uit haar rekening te trek. Marope sê nadat hulle die onttrekkings gedoen het, het die mans die vrou alleen in die voertuig gelos.

Sy het daarin geslaag om haarself te bevry en het die polisie gekontak. Die polisie ondersoek ‘n saak van ontvoering en roof.

Enigiemand met inligting oor die voorval word gevra om hul naaste polisiestasie te kontak.

Andre Grobler/Courant News