Bloemfontein laerskool-atlete se hoërskoolloopbane lyk rooskleurig

0
1141
Alex Klopper FOTO: UIPM

Verskeie atlete van die Rosestad wat Saterdag tydens die Vrystaat (VS)-laerskole-atletiekkampioenskap op Sasolburg in aksie was in die afdelings vir seuns en meisies 13 jaar het gewys hulle is slaggereed om aanstaande jaar hul hoërskoolloopbaan op die atletiekbaan met groot sukses op te volg.

Bloemfontein se atlete in genoemde ouderdomsgroep het met sewe (5 meisies en 2 seuns) individuele titels huiswaarts gekeer.

Eduané Janse van Rensburg was een van die Bloemfonteinse sterre wat uitgeblink het. Hierdie blits van die Laerskool Universitas het goud in die 100m en 200m behaal om haar te onderskei as die vinnigste laerskoolleerling onder die skoner geslag in die Vrystaat.

Sy het die 100m in ‘n kookwater 13,00 gewen en is gevolg deur nóg ‘n haastige Bloemfonteiner, Alex Klopper (Oranje, 13,39). Emma Schutte (Volkskool Kroonstad) moes met die bronsmedalje in 13,47 tevrede wees.

In die 200m was Janse van Rensburg éérs op en wakker. Sy wen dié nommer in ‘n Vrystaat-laerskolerekord én met meer as ‘n sekonde. Dit is reuse-oorwinning in ‘n 200m. Sy teken ‘n skitterende tyd van 25,79 aan en is weer gevolg deur Klopper (26,89) en Schutte (26,90).
In die 75m-hekkies vir meisies het twee Bloemfonteiners gedy deur óók eerste en tweede te eindig. Ladene Liebenberg (Pres. Brand) het die titel gewen in 12:53 en het Ané Janse van Vuuren (Oranje, 12,54), wat silwer gebuit het, met slegs een honderdste van ‘n sekonde getroef.

Toe kom nóg ‘n Janse van Vuuren, die keer Zanelle (Universitas), en steek weer ‘n stokkie voor ‘n moontlike goud vir Ané Janse van Vuuren. Zanelle het die horlosie op 31,12 gestop en Ané was met ‘n tyd van 31,60 tweede oor die eindstreep.

Juanita Kruger (Fichardtpark) het die enigste veldnommer onder die Bloemfonteinse meisies (13 jaar) gewen toe sy die spiesgooititel met ‘n wenafstand van 28,91m beklink het.

Onder die manne van die Rosestad het SJ Marais (Grey) met ‘n netjiese oorwinning in die 80m-hekkies (12,28) vorendag gekom, terwyl sy kragtige spanmaat van Grey, Tat Botha, die gewigstoottitel met ‘n stewige 60 sentimeter voor sy naaste teenstander agter sy naam geskryf het. Sy titelafstand was 12,32m. – RUFUS BOTHA
info@bloemfonteincourant.co.za