Blindes werskaf vir Valentynsdagvieringe

0
358
Die Vereniging vir Blindes Vrystaat is tog te trots op hul eerste baksel hartjie vormige koeksusters vir hul Sweethearts-projek. FOTO'S:MARICELLE BOTHA

Februarie is die maand van liefde en een organisasie wat nie net liefde onder mekaar deel nie, maar ook met ander, is die Vereniging vir Blindes Vrystaat.
Deel van ‘n sosiale inisiatief, maar ook een waar daar vir die vereniging fondse ingesamel word, is die Sweethearts-projek. Sedert verlede week kom lede van die vereniging elke dag bymekaar om groot hoeveelhede hartjievormige koeksisters vir Valentynsdag te bak.
Volgens Magrita de Wet, maatskaplike werker van die vereniging, is hierdie projek nie net vir fondsinsameling nie, daar word net so hard gekuier as wat daar gewerk word.
Met die hulp van ‘n paar ekstra oë en die vrygewigheid van die Gereformeerde Kerk Suidheuwels in Generaal De Wet, wat hul kombuis beskikbaar gestel het vir die projek, word daar gewerskaf om bestellings voltooi te kry voor 14 Februarie.
Die koeksisters kos R25 per dosyn en kan by die vereniging bestel word.
Die vereniging beplan ook ‘n paar ander opwindende projekte vir die jaar. Op 3 Maart is dit tyd vir hul Dinner in the Dark-geselligheid. Behalwe vir fondsinsameling is die doel van hierdie geleentheid ook die bewusmaking van die leefwêreld van die blinde of swaksiende persoon. Die ligte sal tydens die hoofmaaltyd afgeskakel word. De Wet sê hierdie geleentheid behoort groot pret te wees.
De Wet nooi ook ander blinde of swaksiende persone en hul geliefdes om by die vereniging betrokke te raak en te kom leer hoe om, ten spyte van sigprobleme, steeds ‘n vol lewe te lei.
Vir meer inligting oor die Vereniging vir Blindes Vrystaat of om meer uit te vind oor hul projekte, kontak hulle by 051-447-6934/04 of fsblind@gmail.com. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.zaDSC_0463