Blinde Louzanne wen oudste padwedloop in VS

0
2364
Louzanne Coetzee van Kovsies, en haar gids, Claus Kempen, is hier op pad om geskiedenis te maak. Coetzee het Saterdag die eerste blinde atleet in die land geword om 'n padwedloop vir atlete sonder gestremdhede te wen. Agter hulle is die wenner van die mansafdeling, Anastacius Ontong, wat laat vir die wedloop opgedaag het en al die deelnemers van agter af ingekatrol het. FOTO: JOHAN ROUX

Die blinde Bloemfonteinse atleet, Louzanne Coetzee (Kovsies), het Saterdag saam met haar gids, Claus Kempen (SUT) die onderskeiding behaal om die eerste keer ‘n padwedloop te wen vir atlete sonder gestremdhede.

Sy het in die ope afdeling vir vroue by die oudste padwedloop in die Vrystaat, die 10 km om Naval Hill, al die atlete sonder gestremdhede agterweë gelaat om in 39:36 te seëvier.
Dit is die eerste keer in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse padwedlope dat ‘n blinde atleet ‘n padwedloop vir atlete sonder gestremdhede wen en in die proses alle deelnemers in die vroue-kategorieë die loef af te steek.

Maryna Swanepoel (Eskom, 40:45) het tweede geëindig en Lee-Ann Uys (individueel) derde. Uys het 48:24 aangeteken en dit is meer as vyf minute vinniger as haar vorige beste tyd (53:32) in ‘n 10 km-padwedloop.

Dié wedloop, wat sy 77ste bestaansjaar gevier het, het nie sonder ‘n tikkie drama gepaard gegaan nie.

Die talentvolle middel- en langafstandster van die Hoërskool Fichardtpark, Tyler Beling, was naby die halfpadmerk algeheel voor onder die skoner geslag, maar het om een of ander rede die afdraai vir die 10 km gemis en het atlete wat die 21 km gehardloop het, gevolg. Sy het heelwat later haar fout agtergekom en omgedraai, maar kon nie vir Coetzee en Kempen inhaal nie.

Beling het egter steeds die afdeling vir junior vroue in 40:02 beklink. Swanepoel het óók die pad (soos Beling) ‘byster geraak’ en het vir Courant gesê sy reken sy het sowat ‘n minuut in die proses verloor.

Anastacius Ontong (Eskom) het self sy eie stukkie drama by dié wedloop geskryf. Ontong, een van die Vrystaat se voorste langafstandatlete, het laat by die wegspring opgedaag en presies twee minute na die res van die atlete weggespring.

Hy het soos ‘n vlakhaas weggespring en al die deelnemers ingekatrol om steeds in 34:54 eerste oor die eindstreep te hardloop. TK Moholo (Old Mutual), wat lank voor gehardloop het, is tydens die laaste kilometer deur Ontong ingehaal en moes met die tweede plek in 35:04 tevrede wees.

Refuwe Mariti (37:22), wat vir die gasheer klub, Bloemfontein Achilles gehardloop het, was derde in 37:22. – RUFUS BOTHA