Bfn-skole toe nie ontwrig nie

0
286

Daar was geen ontwrigting deur betogende studente of ander mense in die #FeesMustFall-inisiatief vanoggend by Grey-Kollege en HTS Louis Botha in Bloemfontein nie. Dit kom nadat ‘n sosialemedia-boodskap gister die ronde gedoen het dat skole naby die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) ontwrig moet word. ‘n Vrou, wat die #FeesMustFall-inisiatief ondersteun, het die boodskap of Facebook geplaas.

Daarin word die ontwrigting van openbare plekke soos inkopiesentrums ook voorgestel totdat die regering “wakker word”. Woordvoerder van die Departement van Onderwys, Howard Ndaba, het gesê die Facebook-boodskap is kommerwekkend. Hy het gesê indien dit sou gebeur, dit ‘n ernstige kriminele oortreding is, wat kinders ook van hul grondwetlike reg ontneem. Volgens Ndaba het die departement dié boodskap nie ligtelik opgeneem nie. Die betrokke skole en die polisie is op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas.

Hy het gesê die departement wou nie paniek saai nie, maar dit is belangrik om aan ouers, kinders en leerkragte die versekering te gee dat die skole veilig is. Bedrywighede by dié skole het vandag soos normaal voortgegaan.

SUT het hom gister van die sosialemedia-boodskap gedistansieer. Woordvoerder, Dan Maritz het ouers gemaan om nie die boodskap ernstig op te neem nie, omdat dit moontlik fiktief kan wees. – Christal-Lize Muller