Bfn: jaagtog lei na arrestasie

0
871

‘n Vermeende rower is ná ‘n hoëspoed-jaagtog in hegtenis geneem nadat ‘n vulstasie naby die Windmill Casino in Bloemfontein in die vroeë oggendure beroof is.

Die polisie se Chaka Marope sê vier gewapende rowers het omstreeks 02:00 vanoggend by die vulstasie se geriefswinkel ingestorm en vier werknemers gedwing om op die vloer te lê.

Hulle was met selfgemaakte pangas gewapen. Marope sê die booswigte het toe met‘n onbekende bedrag geld en bokse sigarette in ‘n wit Toyota Corolla op die vlug geslaan.

Marope sê die polisie is in kennis gestel, waarna die jaagtog in Curielaan en Vereenigingrylaan plaasgevind het. Die 32-jarige verdagte is toe gearresteer en drie ander het te voet gevlug.

“Een van die verdagtes is in hegtenis geneem nadat die vermeende rowers beheer oor die motor verloor het en teen die randsteen by die Suidpark-begraafplaas vasgery het. In hierdie stadium het ons ‘n span wat die saak ondersoek om die drie verdagtes wat ontsnap het, te probeer vastrek,” sê Marope.

Die verdagte sal na verwagting môre in die plaaslike landdroshof op ‘n klag van sakeroof verskyn.

-Mark Steenbok