Bfn-atlete wen agt medaljes op Afrika-byeenkoms

0
1266
Carien Sander het op die Afrika-streek 5-spele, wat verlede week in Luanda (Angola) beslis is, vier medaljes ingeoes. Sy het twee goue medaljes in aflosnommers en twee brons in onderskeidelik die 200m en 400m gewen. FOTO: RUFUS BOTHA

Tussen drie junior atlete van Bloemfontein, Mizan Viljoen van die Hoër Meisieskool Oranje, en die twee sterre van die Hoërskool Jim Fouché, Carien Sander en Tharina van der Walt, het hulle gesamentlik nie minder nie as agt keer die podium bestyg op die Afrika-streek se Sone 5-spele wat verlede week in Luanda (Angola) beslis is.

Dié spele, wat voorheen bekend gestaan het as die Afrika-suidstreek se Sone 6-spele, het onder meer deelnemers van lande soos Namibië, Zambië, Zimbabwe, Botswana, Mauritius, Lesotho en die gasheerland, Angola, gelok.

Viljoen, Suid-Afrika se voorste stapper in 2016 in die jeugafdeling (o.18) vir meisies, het weer eens ‘n uitmuntende vertoning opgedis.

Sy was die enigste meisie wat in Luanda deelgeneem het en beamptes het besluit dat sy saam met die enigste twee inskrywings (ook Suid-Afrikaners) in die seunsafdeling moes stap. Viljoen, wat vroeër vanjaar die Suid-Afrikaanse jeugrekord na 24:39:10 in Bloemfontein verbeter het, het nie dié rekord in Luanda verbeter nie, maar steeds met ‘n goeie tyd van 25:12,94 geseëvier.

Sander het weliswaar nie goud in ‘n individuele nommer gewen nie, maar haar twee derde plekke in onderskeidelik die 200m (25,91) en 400m (56,99) is nie te versmaai nie. In die 200m het Sander se mede-Suid-Afrikaner, Marli Viljoen, geseëvier in 25,48 en is gevolg deur die Botswana-blits, Galefele Moroko (25,58).

Die einste Moroko het die 400m gewen in ‘n haastige 55,59 en het die bordjies verhang teen Viljoen wat dié keer tweede viool moes speel in 56,04. Sander en Viljoen het hulle goed van hul taak gekwyt om Suid-Afrika te help om goud te verower in die 4 x 100m-aflos en 4 x 400m-aflos. Hulle het sodoende albei vier medaljes vir die Reënboognasie ingeoes.
Van der Walt het in die veldnommers gewys hoe goed sy is en ook hoe swak haar mededingers van die Afrika-suidstreek is. Sy het drie goue medaljes in haar sak gesteek. Die joviale Van der Walt het die gewigstoot met ‘n gooi van 12,26m gewen en die tweede atleet, Wayne Nkomo (Zimbabwe, 10,59m), na ‘n beginner laat lyk. En gewigstoot is slegs ‘n nommer waaraan Van der Walt deelneem, soos sy dit stel, “vir die lekker”.

Sy het die diskusgooinommer haar eie gemaak met ‘n netjiese 47,18m en sodoende die einste Nkomo (29,92m) met 17,26m oorwin.

Van der Walt het in die hamergooi, wat haar beste nommer is, met ‘n reuse- 53,07m losgetrek en haar ysterbal met meer as twee keer sover as die silwermedaljewenner, Tandiwa Kandeya (Zimbabwe), se 25,14m laat grondvat het. – RUFUS BOTHA