Bfn atlete in aksie in straatmyl in Lesotho

0
455
Rynhardt van Rensburg FOTO: VARSITYSPORTSA.CO.ZA

Die Kovsie en semi-finalis op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro in die 800m, Rynhardt van Rensburg, en sowat 15 ander voorste atlete van Kovsieland gaan op 14 Januarie saam met heelparty internasionale atlete in aksie wees tydens die eerste en unieke AfriSki-straatmylbyeenkoms in Lesotho.

Sover vasgestel kon word, sal hierdie straatmylbyeenkoms die eerste in sy soort in die wêreld wees wat só hoog bo seëvlak beslis gaan word. AfriSki is nie minder nie as 3010 meter bo seëvlak en deelnemers gaan behoorlik swoeg met die heelwat minder suurstof op hierdie hoogte bo seëvlak.

Van Rensburg en ‘n groep atlete van Suid-Afrika sal oudergewoonte reeds van 3 Januarie af by AfriSki besig wees met wat bekend staan in sportkringe as “altitude training.” Hy word deur sy pa, Derik, afgerig en laasgenoemde is ook die afrigter van die Lesotho Olimpiese Spele-800m-atleet, Tshepang Sello.

Indien KovsieSport die voorste middel- en langafstandatleet in die Vrystaat onder die skoner geslag, Kesa Molotsane, saamneem om aan dié straatmyl deel te neem, sal dit ‘n interessante affêre tussen Sello en Molotsane afgee.

Die Kovsies se wêreldrekordhouer in die 5000m vir volkome blinde vroue-atlete, Louzanne Coetzee, en haar gids, Khothatso Mokone, gaan saam met Van Rensburg en Sello by AfriSki oefen en daarna self aan die straatmyl vir vroue deelneem.

Dan kom daar nog die gevaarpêre van die uitgeslape en een van die beste afrigters in Suid-Afrika, Jean Verster van Potchefstroom. Verster, wat onder meer die Olimpiese vrouekampioen in die 800m, Caster Semenya, brei, het vir Courant gesê daar sal in Januarie weer heelwat internasionale atlete in Potchefstroom kom oefen en hy gaan self ‘n klompie van hulle saambring om aan die unieke AfriSki-straatmylbyeenkoms deel te neem.

Daar gaan slegs drie wedlope aangebied word. Die byeenkoms begin met ‘n pret-straatmylwedloop (11:30). Hierdie wedloop is ingebring vir beginners en ook families, vriende en ondersteuners van deelnemers van die meer ernstige atlete om ook deel van die “high altitude”-pret te wees.

AfriSki het besluit om dié naweek verblyf vir besoekers vir die straatmylbyeenkoms teen ‘n goedkoper tarief aan te bied en daar sal ook pryse wees vir alle deelnemers wat die genoemde wedlope voltooi.

Die straatmylwedloop vir vroue sal om 11:45 afskop en die manswedloop om 12:00.
Vir meer inligting, bel vir Derik van Rensburg by 072 341 7988. – RUFUS BOTHA