Bfn-arts was geliefd

0
4913
Wyle dr. Werner van Pletzen.

‘n Geliefde Bloemfonteinse dokter en oud-Grey, wyle Werner van Pletzen, se roudiens vind die naweek by sy alma mater plaas. Sy tienerseun, ook Werner, is deel van die gr 8.-groep wat gister hul hoërskoolloopbaan hier begin het. Sy pa het in die tagtigs aan Grey-kollege gematrikuleer.
Wyle Van Pletzen en sy tienerdogter, Lara, is op Oujaarsdag ernstig in ‘n motorongeluk buite die stad beseer. Werner Jr. en ‘n vriend van hom was ook in die bakkie toe dit naby die Rustfonteindam by Botshabelo op ‘n grondpad gerol het. Die seuns is nie ernstig beseer nie.
Gerda Ferreira, Van Pletzen se suster, het hom beskryf as ‘n “positiewe mens wat die belange van ander mense hoog op die hart gedra het” nadat hy Maandag omstreeks 14:00 in die Mediclinic Bloemfontein se intensiewesorgeenheid oorlede is. Ferreira, wat van Pretoria is, het aan Courant gesê hy was ‘n blymoedige mens.
Hospitaalwoordvoerder, Barbara Steenkamp, het gesê Lara is Maandagmiddag uit dié hospitaal ontslaan. Sy het onder meer ‘n longbesering in dié ongeluk opgedoen. Dié 16-jarige leerling van die private skool Midstream College in Pretoria is saam met haar pa in die Mediclinic Bloemfontein behandel en is die afgelope naweek uit die intensiewesorg-eenheid na ‘n gewone saal oorgeplaas.
Steenkamp het Van Pletzen se dood as ‘n geweldige verlies beskryf, ook vir dié hospitaal waar hy sowat 15 jaar betrokke was. Hy was vir meer as ‘n dekade die direksievoorsitter van die Elite Med24-groep en het gereeld by die Mediclinic Bloemfontein se ongevalle-eenheid gewerk. Hy was ‘n geliefde en gerespekteerde algemene praktisyn vir kollegas en pasiënte. “Sy teenwoordigheid, bekwaamheid en vaardighede sal voorwaar gemis word.”
‘n Werknemer, Christie Greyvenstein, wat verlede jaar in September by sy praktyk in die stad begin werk het, het gesê dit was ‘n absolute voorreg om vir hom te kon werk. Hy het mense met respek behandel. Greyvenstein en haar kollegas (Tersia en Christina) gaan Van Pletzen ongelooflik baie mis.
‘n Voormalige werknemer (ontvangsdame), Elsabet Louw van Port Elizabeth, vertel hy was ‘n ware vriend en “die beste dokter ooit”. Van Pletzen het snags wakker gelê en oor sy pasiënte nagedink. Sy sal hom as vriend vir sy humorsin onthou. Hy het altyd gelag. “Hy was ‘n kind van God en is nou op ‘n beter plek.”
Soortgelyke huldeblyke stroom op Facebook in.
Die Oud-Springbok, Toks van der Linde, het geskryf dit is hartseer. Voormalige naatbouler van die VKB Knights, Quinton Friend, se opgewondenheid op Facebook oor 2017 en die tweede deel van die krieketseisoen is gedemp toe hy die nuus van “sy goeie vriend” se afsterwe ontvang het.
Anlie Loppnow het geskryf: “Sterkte aan die familie. My hart is baie seer. Hy was ‘n baie goeie dokter. Rus in vrede, dr. Werner.”
Die roudiens vir Van Pletzen vind Saterdag om 12:00 in Grey-kollege Sekondêr se Reüniesaal plaas. – Christal-lize Muller 
christal-lize@centralmediagroup.co.za