Bestuur veilig op nat paaie, vra nooddienste

0
550
Ongelukstoneel buite Warden. FOTO: VERSKAF

Talle vakansiegangers keer vandeesweek terug huis toe en druk verkeer word op die land se paaie ervaar. Netcare 911 doen weer eens ‘n ernstige beroep op motoriste om veral in nat weerstoestande veilig te bestuur. Woordvoerder, Chris Botha, vra mense om nie roekeloos te bestuur nie en om geduldig op paaie te wees.

Hy maan mense om nie te jaag nie en binne die spoedbeperkings te bly. Minder motorongelukke gaan voorkom as groter volgafstande gehou word. Mense ry met hul motors té naby aan mekaar en kan nie betyds remme aanslaan nie. ‘n Botsing vind plaas en die bestuurder van ‘n motor verloor beheer daaroor.

Volgens Botha het nat toestande gister waarskynlik ‘n rol gespeel toe vier mense omstreeks 18:10 in ‘n botsing op die N3 naby Warden in die Vrystaat dood is. Hy sê ‘n bestuurder van ‘n motor het vermoedelik beheer daaroor verloor waarna die motor getol het en deur ‘n vragmotor getref is. Twee insittendes is uit die motor geslinger, terwyl twee mense in die motorwrak vasgekeer is.

Al die insittendes van die motor is op die toneel dood verklaar. Die vragmotorbestuurder en ‘n passasier is nie ernstig beseer nie. – Christal-Lize Muller