Barokensemble vier Bach

0
261
Die deelnemers aan die konsert Bach kannie wag is agter, Petrus Krige (blokfluit) en Cézarre Strydom (klavesimbel), en voor, Lance Phillip (tenoor en orrel), Francois Henkins (viool), Tilla Henkins (tjello) en Kobus Malan (hobo en blokfluit).

Die Odeion Skool vir Musiek het vroeër vanjaar ‘n Barokensemble in die lewe geroep. Hul eerste konsert, getiteld Bach kannie wag, vind op 17 November om 19:30 in die voorportaal van die Odeion plaas. Die ensemble bestaan uit huidige dosente of voormalige dosente aan die OSM.
Die volgende werke word uitgevoer: Brandenburgkonserte Nos. II en IV, Italiaanse konsert in F majeur, Triosonate No. 5 in C majeur, ‘n aantal tenoor-arias uit kantates en die slotwerk is die immergroen Dubbelkonsert vir hobo en viool.
Hierdie konsert is egter anders as gewone konserte in verskeie opsigte. Die program bestaan net uit werke van Johann Sebastian Bach. Hierdie kamermusiekkonsert word gedoen soos dit in die Barokperiode gebruiklik was: ‘n klavesimbel in die middel, met spelers in ‘n sirkel daar rondom. Die spelers front na mekaar en na die middel toe met die gehoor rondom hulle.
Toe die program aanvanklik saamgestel is, het daar telkens voorstelle van Bach-werke na vore gekom. Vandaar die besluit om dit uitsluitlik ‘n Bach-program te maak. Die uitvoering word op ‘n informele loslit-wyse gedoen. Elkeen van die deelnemers sal dan ook informeel met die gehoor skerts oor die titel van die konsert: Bach kannie wag. Die musiek word heeltyd deur aangrypende skyfies toegelig.
Kaartjies kos R50 per persoon is by Computicket of by die deur beskikbaar.