Awerbuch’s – die einde van ‘n era

0
30187
Die vooraansig van die bekende Awerbuch's-gebou FOTO: MARICELLE BOTHA

Awerbuch’s Bargain House, of sommer net Awerbuch’s, soos Bloemfonteiners hierdie besigheid langer as ‘n eeu al ken, is die stad se langste bestaande handelshuis.

Dié onderneming, wat al 116 jaar lank in die stad handel dryf, het ‘n instansie geword wat verskeie generasies kliënte oor die jare bedien het. Boere, sakepersone, ministers en self staatspresident CR Swart het op Awerbuch’s staatgemaak vir hul toerusting.

Ná ‘n eeu onder bestuur van die Awerbuch-Mofsowitz-familie, het die huidige eienaar, Sefton Mofsowitz, besluit om die besigheid te verkoop. Sefton (67) sê dit was ‘n moeilike besluit, maar die tyd het aangebreek vir ‘n nuwe era vir Awerbuch’s.

Sy kinders volg reeds professionele loopbane en daar is niemand wat die besigheid kan oorneem nie.

Sefton en sy oom, Cecil Rabinowitz (87), is tans aan die stuur van die besigheid.

Die oorspronklike stigter van Awerbuch’s, Meyer Awerbuch, het in 1890 uit Litaue in die land aangekom.

Kort ná 1900 het hy saam met sy broer die besigheid Awerbuch Bros. op die hoek van die destydse Bastion- en Mantlestraat geopen. Cecil vertel die ligging was daardie tyd ideaal.

“Ons was hier by die mark. Boere sou vroegdag hierheen kom om hul produkte op die mark te kom uitstal en teen die tyd dat hul marksake afgehandel was, was hulle gereed vir hul aankope wanneer die deure soggens oopgaan.”

Die besturende direkteur van Awerbuch's, Sefton Mofsowitz, en sy oom, Cecil Rabinowitz. FOTO: MARICELLE BOTHA
Die besturende direkteur van Awerbuch’s, Sefton Mofsowitz, en sy oom, Cecil Rabinowitz. FOTO: MARICELLE BOTHA

In 1927 het Meyer sy 13-jarige neef, Sonny Mofsowitz, uit Litaue laat kom om by hom aan te sluit. Die jong Sonny kon nie ‘n woord Engels verstaan nie en Awerbuch het hom toe na Grey-kollege gestuur om Engels te leer.

Op 14-jarige ouderdom het Sonny in die winkel begin werk. Toe Awerbuch in 1942 oorlede is, het Sonny die besigheid oorgekoop en dit in Fichardtstraat gevestig, soos dit vandag daar staan.

In daardie tydperk het Sonny ook na ‘n nooi Rabinowitz (Joyce) van Aliwal-Noord, die dogter van ‘n bekende horlosiemaker (CH Rabinowitz) begin vry, en só het sy paaie met Cecil Rabinowitz gekruis.

In 1948 het Cecil, wat intussen Sonny se swaer geword het, by die Awerbuchs se familieonderneming aangesluit.

Cecil meen een van die redes vir dié onderneming se sukses lê in hul kliënteverhoudinge. “Ek sê baie keer, die klënte is ons aandeelhouers.

Hier is gesinne wat ons al deur verskeie generasies bedien het. Van die mense het letterlik voor ons oë grootgeword. Verder ken ons personeel ons kliënte en ons kliënte ons personeel.”

Onder die meer as 50 personeellede wat tans by die winkel werksaam is, is daar sommige wat al byna 40 jaar lank daar werk. Hester du Plooy is 36 jaar deel van die onderneming, terwyl talle ander personeellede al meer as dertig jaar werknemers is.

‘n Voormalige bestuurder, Christo Smith, het 46 jaar by Awerbuch’s gewerk voordat hy in 2006 afgetree het.

Cecil lag as hy gevra word wanneer hy van plan is om af te tree. “Wat is aftrede? Solank ek gesond is, kom ek werk toe.”

Sonny is in 1975 oorlede. Sy seun, Sefton, wat in daardie stadium besig was om rekeningkunde te studeer, het toe besluit om die besigheid oor te neem en Awerbuch’s se besturende direkteur geword.

Met sy Oom Cecil aan sy sy, het hy Awerbuch’s die millennium ingeneem en van toe tot vandag het hulle saam gewerk. Sefton sê hy glo die sukses van hul besigheid lê in eerlike besigheid en opregte omgee vir kliënte en personeel.

Ek sê baie keer, die klënte is ons aandeelhouers.

Awerbuch’s word amptelik op 1 Desember aan die nuwe eienaar, Louis Grové, en sy twee seuns Willie en Louis, oorhandig. Sefton en Cecil sal vir die volgende drie maande aanbly om die oorgee van die besigheid te hanteer.
Willie vertel sy oupa, Willie Grové, het destyds die Vlaamse Linnehuis in Bloemfontein besit. “My oupa het baie besigheid met Awerbuch’s gedoen. Toe ons ‘n paar jaar gelede Copper Clover-restaurant in die stad geopen het, is die personeel se klere ook daar gekoop. Ons verhouding met Awerbuch’s kom self ook oor generasies heen. Dit is vir ons ‘n groot eer om ‘n besigheid van dié statuur oor te neem.”
Willie sê dat hulle glad nie van plan is om die besigheid se naam te verander nie. Hy sê hulle hoop om teen Maart volgende jaar die besigheid by Bloempark (die sentrum waar Copper Clover is) in Langenhovenpark te hervestig. – Maricelle Botha 
maricelle@centralmediagroup.co.za