Atletiek of rugby vir Janco?

0
3623
Janco van Heyningen oppad om oor die doellyn te gaan kuier vir die die Suid-Afrikaanse onder 19 span teen Engeland onder 18 by Bishops in Kaapstad. FOTO ASHLEY VLOTMAN

Die tameletjie vir een van die veelsydigste skole-sportmanne in Suid-Afrika, Janco van Heyningen, het onlangs met ‘n verrassende aankondiging deur Atletiek Suid-Afrika (ASA) net nóg taaier geword vir hierdie uitstekende atleet én rugbyspeler van die Hoërskool Grey-kollege.

ASA het ‘n groep van 36 jeug- en junior atlete bekendgemaak wat hy geïdentifiseer het as moontlike sterre vir die 2020-Olimpiese Spele in Japan. Van Heyningen is een van hulle. Inteendeel, hy is die enigste Bloemfonteiner in hierdie groep en een van slegs twee Vrystaters. Die ander Vrystater is die uitmuntende hamergooier van Sasolburg, Carel Haasbroek.

ASA het die vereiste vir die genoemde groep vereenvoudig deur slegs atlete in te sluit wat vanjaar ‘n plek onder die top-30 op die wêreldranglys van beste vertoning in die jeug- en junior afdelings behaal het.

Van Heyningen, wat so tussen sy rugbyverpligtinge vir Grey-kollege ‘n skitterende seisoen in die 110m-hekkies vir jeugseuns beleef het, is in die groep ingesluit ná sy haastige bronsmedaljetyd (13,74) wat hy in Maart in Germiston vermag het. Dié tyd plaas hom 17de op vanjaar se ranglys van wêreldbestes in dié nommer.

Courant het Van Heyningen Maandag gebel om hom geluk te wens met die insluiting in ASA se groep en wou weet waarheen in die toekoms – gaan dit rugby of atletiek wees? Hierdie yster het vanjaar op senter uitgedraf vir die Suid-Afrikaanse Skole A-span en dit in sy graad 11-jaar.

Daar is geen twyfel dat indien niks drasties voorval nie, hy volgende jaar vir die SA-skolespan die trui oor die kop gaan trek en daar word reeds in die wandelgange gefluister hoe ‘n skitterende Blitsbok (7’s) hy met sy vaart in die toekoms gaan word. Dit sluit die bespiegeling uit van sy moontlike toekomstige Springbokkleure in die 15 man-dissipline.

Hy het aan Courant gesê: “Ek was werklik nie bewus van die insluiting in die ASA-groep nie. Ek is aangenaam verras. Of dit atletiek of rugby in die toekoms gaan wees, bly vir my ‘n moeilike besluit. Ek gaan egter vir so lank as moontlik aan albei op die hoogste vlak probeer deelneem, en ek glo tyd sal leer watter een van dié twee ‘liefdes’ in my lewe uiteindelik gaan seëvier.”

Van Heyningen het verder gesê: “Ek geniet op die oomblik my hekkies en rugby ewe veel. Ek moes vanjaar byvoorbeeld aan die SA skolekampioenskap (Bloemfontein) aan die hekkies deelneem en direk daarna vertrek om vir Grey se eerste span in ‘n rugbytoernooi in Graaff-Reinet te speel. Daarvandaan het ek vertrek om aan die SA jeugkampioenskap in Germiston deel te neem. Dit was moeilik, maar ek het dit alles geniet.”

Dit was reeds in Germiston waar van Heyningen hom as’t ware in die ASA-groep vir die 2020-Olimpiese Spele “ingenael” het.

Vir atletiek- en rugbyliefhebbers wat steeds bespiegel of dit uiteindelik vir Van Heyningen atletiek of rugby gaan wees, gaan daar ten minste nog ‘n jaar se wag wees, want hierdie grootse talent weet in hierdie stadium self nie. RUFUS BOTHA