Sport News

Tjisas onoorwonne, maar ander klubspanne moet in rat kom

Crusaders van die Vrystaat speel in die nuwe nasionale rugbyklubreeks om die Gemeenskapsbeker met splinternuwe truie. Hier wys twee Crusaders-spelers hoe die nuwe truie lyk. Van links: Andrew Arendse (onder-voorsitter van die klub), Warren van Wyngaard, Moses Mpande en Ernst Beck (voorsitter van die klub). FOTO: GEORG VAN ECK
Crusaders van die Vrystaat speel in die nuwe nasionale rugbyklubreeks om die Gemeenskapsbeker met splinternuwe truie. Hier wys twee Crusaders-spelers hoe die nuwe truie lyk. Van links: Andrew Arendse (onder-voorsitter van die klub), Warren van Wyngaard, Moses Mpande en Ernst Beck (voorsitter van die klub). FOTO: GEORG VAN ECK
GEORG VAN ECK

Die Vrystaatse rugbyklubspanne sal vinnig in hoogste rat moet kom as hulle in die wedloop van die nasionale klubreeks om die Gemeenskapsbeker en die oorkruis provinsiale reeks om die Uitdaagbeker wil bly.
• Albei die Vrystaatse spanne, Crusaders en Bloemfontein-Polisie, het opstoppers in die hul eerste Gemeenskapsbeker-kragmetings teen onderskeidelik Rovers van Welkom (43-20) en Raiders van Johannesburg (33-6) gekry.

Polisie het sy man goed teen Rovers in Welkom gestaan, maar skopwerk was deurslaggewend en die akkurate korrelwerk van Rovers se losskakel, Pieter Strydom, het vir sy span die knoop deurgehaak. Strydom het meer as die helfte van sy span se punte (23) met die skoen aangeteken. Uiteindelik het Rovers net vier drieë teenoor die drie van Polisie gedruk. Vir Polisie het veral die  voorspelers, Frans Mortlock, Mike Taylor en JP Terblanche uitgeblink. In die agterlyn het CJ de Villiers ook goed gespeel. Crusaders kon nie ’n drie teen Raiders druk nie en al die span se punte is deur Griffon Colby met strafdoele behaal. • In die oorkruisliga om die Uitdaagbeker tussen die spanne van die Vrystaat en Griffons het Hennenman, Tjisas en Kroonstad hul onoorwonne status behou en die kragmeting tussen Hennenman en Tjisas Saterdag in die SUT-stadion in Bloemfontein gaan ’n riller wees.

Kroonstad, wat Weermag op Tempe in Bloemfontein kom pak, het geen maklike taak nie. Die soldate het Hennenman hard laat werk vir sy oorwinning van 41-24 en het vier drieë vir ’n bonuspunt gedruk. Dit was veral die agttal met Inus Ras aan die spits en Jermain Botha op skrumskakel wat vir Weermag uitgeblink het. Weermag sal egter sy verdediging moet opknap as hy Kroonstad, wat daarvan hou om die bal lug te gee, wil stuit. Bloemfontein-Polisie II of die Apollos soos die span nou bekend staan, het ’n waarskuwing aan die ander spanne gerig deur Rovers II in Welkom 41-18 af te ransel.

Die twee blitse Frankie Ferreira en Derrick Bezuidenhout het die Apollos slaankrag gegee en hulle kon sewe drieë teen twee inryg. Die agttal het die grondslag vir die sege gelê en veral Zander Basson (slot) en stut, Seun Willemse, het ’n barshou gespeel.
Die Apollos het eerskomende Saterdag ’n moeilike taak om Oud-Skoliere van Bethlehem op Bobbiespark in Bloemfontein te tem.
Ixias het weer met goeie vyftienmanrugby vorendag gekom om Welkom in Welkom 57-7 af te ransel. Welkom het geen teenvoeter vir die studente se hoë tempo spel gehad nie. Spelers soos Dean Kauprihanoff (agtsteman) en Duan Potgieter (heelagter) was die groot uitblinkers.
Comment
Be the first to comment on this article
You need to be logged in to comment on articles. If you don't have an account yet, click here to register.

Bloemfontein Courant encourages freedom of speech and the expression of diverse views. The views of users published on bloemfonteincourant.co.za are their own and do not necessarily represent the views of Bloemfontein Courant.
Weather
Currencies
Moon Cycle
US Dollar
Pound Sterling
Euro
Australian Dollar
New Zealand Dollar
Canadian Dollar
UAE Dirham
Singapore Dollar
Chinese Yuan