Wellness

Gesondheid van Suid-Afrikaners ‘beroerd’

LANI FOUCHÉ

Die resultate van die eerste fase van ’n landwye diabetesveldtog lyk beroerd en dui daarop dat Suid-Afrika oor tien jaar met ’n baie siek bevolking kan sit. Die vereniging van onafhanklike gemeenskapsapteke (ICPA) in samewerking met die departement van gesondheid, het onlangs sowat 10 000 mense landwyd vir diabetes en ander leefstyl-verwante siektetoestande gratis getoets. Dit is in poging om 100 000 mense regoor die land te laat toets, sodat hulle van hul mediese toestande bewus is en die nodige stappe kan doen om gesond te word. Tagtig persent van alle diabeteslyers in Suid-Afrika is nie bewus dat hulle daaraan ly nie. Dit is kommerwekkend, en ons wil dit verander,” het die ICPA se direkteur in die Vrystaat en Noord-Kaap, Wim Grobbelaar, vroeër gesê. Suid-Afrika lê ook bo-aan die lys van lande met die hoogste diabetes-voorkoms ter wêreld.

Die resultate van die eerste 10 000 mense wat onlangs getoets is, lyk beroerd. Die syfers toon dat ’n groot deel van dié wat getoets is, dringende leefstyl-veranderings moet maak om die ontwikkeling van diabetes te keer. Dit plaas ook ’n geweldige las op die regering en die res van die gesondheidsektor, meen die ICPA. Mense moet meer verantwoordelik met hul gesondheid wees. Een uit elke drie mense wat getoets is, loop ’n hoë risiko om diabetes oor die volgende tien jaar te ontwikkel, en ’n verdere 50% word as laer, maar steeds beduidende risiko-pasiënte beskou. Die hoë-risiko pasiënte is dringend vir ’n volledige ondersoek na dokters verwys, en die laer-risiko groep is beveel om dringende leefstylveranderinge te maak. Die resultate toon dat 65% van dié wat getoets is, oorgewig is, waarvan 13% aan erge obesiteit ly.

“Dit is ’n kommerwekkende syfer hierdie. Die dringende behoefte aan drastiese leefstylveranderinge en aangepaste eetplanne is by hierdie persone geïdentifiseer,” sê die ICPA. Veertig persent van die diabete wat getoets is het onbeheerde hoë suikervlakke en 10% van die pasiënte met hipertensie het uiters hoë bloeddruktellings getoon. Die voorsitter van die ICPA, Sham Moodley, sê die helfte van die toetse is op mense 50 jaar en jonger gedoen. “Daar bestaan ’n persepsie in die gesondheidsektor dat net senior burgers met hierdie tipe toestande sukkel en dat net ouer mense bereid is om sulke toetse te ondergaan. Ons getalle toon egter die teenoorgestelde, en dit is verblydend.” Moodley sê hulle beoog om, as deel van die groter veldtog, teen die einde van November altesaam 50 000 mense vir diabetes te toets. Vir ’n lys van deelnemende apteke of meer inligting oor diabetes, besoek www.icpa.co.za.



Tags: Gesondheid van Suid-Afrikaners ‘beroerd’
Comment
Be the first to comment on this article
You need to be logged in to comment on articles. If you don't have an account yet, click here to register.

Bloemfontein Courant encourages freedom of speech and the expression of diverse views. The views of users published on bloemfonteincourant.co.za are their own and do not necessarily represent the views of Bloemfontein Courant.
Weather
Currencies
Moon Cycle
US Dollar
Pound Sterling
Euro
Australian Dollar
New Zealand Dollar
Canadian Dollar
UAE Dirham
Singapore Dollar
Chinese Yuan