Bambini

Mamma, ek’s vet!

LANI FOUCHÉ

Obesiteit (vetsug) onder kinders is ’n nare werklikheid - Suid-Afrika is bo-aan die lys van lande met die grootste voorkoms van hierdie siekteverskynsel. Ilsabè Spoelstra, ’n dieetkundige en leefstylkonsultant van Bloemfontein, het raad vir ouers oor hoe om hul kinders se eetgewoontes te verbeter.  “As vet maar die enigste kwaal was! Kinders is ook meer allergies en sensitief, chroniese moegheid kom meer voor, spysverteringkanaal-probleme neem toe en dis tragies hoe hoog die voorkoms van kanker onder klein kindertjies is,” waarsku Spoelstra.

Sy verduidelik dat toksine (gifstowwe) soos preserveermiddels, geurstowwe, smaakmiddels, medikasie, gasse, huisskoonmaakmiddels, plastieke, verwe en gomme inmeng by belangrike metaboliese prosesse. Jou kind se liggaam sukkel om koolhidrate om te sit in energie en vetsintese (vetvorming) vind spontaan plaas. “Die uiteinde is dat kinders moeg is en energieryke kos ‘crave’, wat die kind vetter en vetter maak.”

As jou kind aan obesiteit ly, is hy of sy in der waarheid siek. “Obesiteit is deur die Wêreld-gesondheidsorganisasie as ’n siekte geklassifiseer,” sê Spoelstra. Daar word ook verwag dat só ’n kind se immuniteitstelsel en konsentrasie swakker sal wees en die kind loop die gevaar om hartsiektes, tipe 2-diabetes, lewerprobleme en slaapapnee te ontwikkel.  “Wat hartseer is, is dat die kind in ’n ontwikkelingsfase behoort te wees, maar eintlik veg om oorlewing. Oorgewig kinders kan as volwassenes ernstige gesondheidsprobleme hê, insluitend hartsiektes, beroerte, insulienweerstandigheid, verskillende tipes kanker, osteo-artritis, ensovoorts,” verduidelik Spoelstra.

Wat doen ouers dan verkeerd? Spoelstra beveel aan dat preserveermiddels soos natriumbensoaat, geurmiddels en kleurstowwe verban moet word. “Gee jou kind kosse wat so na aan die natuurlike vorm as moontlik is. Leer hulle van kleins af om vrugte en groente te eet.” Hou ook so ver moontlik kos met leë kalorieë weg van jou kinders af. Hierdie kosse sluit in lekkers, koeldrank en kitspastas. Dit het min of geen anti-oksidante, minerale en vitamiene nie.  Hoe gemaak as jou kind reeds oorgewig is? Spoelstra waarsku: “Moenie voel jou kind móét gewig verloor nie! As dit op goeie eetgewoontes wel gebeur, is dit ’n bonus.” ’n Kind groei in sy gewig in – bestuur jou kind so dat hy of sy begin reg eet. Die gewig sal stilstaan terwyl die lengte toeneem. Moedig ook jou kind aan om meer aktief te raak.




Tags: Mamma, ek’s vet!
Comment
Be the first to comment on this article
You need to be logged in to comment on articles. If you don't have an account yet, click here to register.

Bloemfontein Courant encourages freedom of speech and the expression of diverse views. The views of users published on bloemfonteincourant.co.za are their own and do not necessarily represent the views of Bloemfontein Courant.
Weather
Currencies
Moon Cycle
US Dollar
Pound Sterling
Euro
Australian Dollar
New Zealand Dollar
Canadian Dollar
UAE Dirham
Singapore Dollar
Chinese Yuan